Word Weer ‘n Kind
- The Shepherd's Way Ministries
- Aug 8, 2022
- 5 min read
Het jy al ooit gewonder hoe geestelike groei lyk? As ‘n mens kyk na hoe ‘n mens ontwikkel is dit altyd voorentoe in die sin dat jy langer, groter en slimmer word, maar in die koninkryk van God lyk dit heeltemal anders. ‘n Mens kan selfs sê onderstebo, en die rede hoekom dit soms vir ons so lyk is omdat die wêreld ons leer dat as jy wil groei, dan moet jy meer doen, jy moet groter dinge doen as jy ‘n beter mens wil wees. Maar God wil einklik hê dat ons Hom meer sal leer ken, en dat ons uit ‘n plek van rus sal leef, wetend dat Hy ons bron is waar ons ons identeit en doel vandaan kry en waaruit ons leef. Dus as ons regtig wil groei sal ons weer ‘n kind moet word, of soos Stephan Joubert dit stel ons moet klein word voor die Here.
Maar hoekom nou juis kind word? Wel eerstens vir Jesus is kinders geweldig kosbaar. ‘n Mens sien dit onder ander in Markus 10:13 – 16 waar mense hulle kinderjies na Jesus toe gebring het sodat Hy hulle kon seën. Die dissipels het natuurlik toe met die mense geraas, en die rede hoekom hulle dit gedoen het, is omdat Jesus geduurig gekritiseer was oor die feit dat Hy te veel tyd deurgebring het met kinders, sondaars en tollenaars. Die drie groepe onder andere was die randfigure van die samelewing gewees, en was of as onrein of onbelanrik beskou. Kinders onder andere was nie gesien as waardevol nie, inteendeel hulle was amper soos honde hanteer gewees, en dis hoekom die dissipels so skerp teenoor die ouers gereageer het. In die dissipels se oë moes Jesus eerder met die belabrike mense tyd gespandeer het, as wat Hy sy tyd gemors het met die onbelanrikes (Du Rand 2007:1477). Maar Jesus het juis gekom vir mense soos die en dis hoekom Hy so kwaad vir die dissipels geword het, Hy het onder ander vir hulle gesê: ““Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”” (1983 vertaling)
Dis maklik om die dissipels natuurlik te kritiseer, maar ons trap ook soms in die selfde strik waar ons ego’s soms so groot is dat niemand ons iets nuuts kan leer nie. Ons dink ons is volwasse, maar soms is ons geestelike ore ook vol wasse en dan hoor ons nie ons Vader se stem nie. Kinders aan die ander kant wil greetig iets nuuts leer, daar is altyd nog ‘n uitdaging om aan te pak, nog ‘n storie op te luister of nog ‘n skat om te ontdek. Ons moet weer opnuut leer om weer soos ‘n kind te word, waar ons die lewe kan aanpak as of dit ‘n avontuur is saam met God en waar ons leer om Sy hart vir ons en vir ander op nuwe en vars maniere te kan ontdek, waar ons nie die heeltyd kyk na ander op die uiterlike nie, maar waar ons verby dit kyk en iemand sien wat in God se beeld gemaak is, en wie Sy verlossing nodig het. Dis dan wat ons nie net ‘n bedelaar sien nie, maar ‘n kind wat ‘n pa nodig het, dis nie net ‘n dwelm verslaafde nie maar ‘n mens wie se pyn genees moet word, dis nie net ‘n kelner nie, maar iemand wie jy voor kan bid en kan bedien, en dis nie net ‘n petrol joggie maar dis iemand wie jy kan laat glimlag, en iets van God se genade kan laat beleef. Kyk nuut, kyk vars, kyk met Jesus se oë.
Om weer soos ‘n kind te word is nie iets wat ‘n mens eenmalig doen nie, want dis ‘n lewenslange proses, want ons vergeet soms dat ons nie so belangrik is soos wat ons dink ons is nie. Kyk bevoorbeeld na Johannes en Jakobus wie se ma na Jesus toe gekom het met ‘n versoek, waar sy gevra het: ““Belowe my dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk langs U mag sit, een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”” (Matteus 20:20 – 21), (1983 vertaling) Jesus se reaksie op die vraag was dat hulle nie werklik begryp het wat hulle vra nie, want die beker wat Hy binnekort sou gedrink het, sou hulle nie op die stadium kon drink nie, want hulle was nog nie met die Heilige Gees vervul nie. Dis ook nie vir Jesus op te besluit wie langs Hom mag sit nie, dit bepaal net die Vader. Met ander woorde almal wat hulle knie gebuig het voor die Seun sal eendag heers saam met Hom, want dit is die Vader se wil (Matteus 17:5, 20:22 – 23 en Handelinge 1:8). Hulle sou wel na hulle met die Gees vervul was wel die beker van lyding gedrink het. Jakobus was byvoorbeeld die eerste martelaar in die kerk gewees, en Johannes was in olie gekook en toe later verban gewees na die eiland Patmos toe waar hy die brief van Openbaring geskryf het (Handelinge 12:2 en Openbaring 1:9). Almal wat dus werklik vir Jesus leef beleef op een of ander manier lyding en vervolging in die wêreld (2 Timotues 3:12). Toe die ander dissipels natuurlik hoor wat Johannes en Jakobus vir Jesus vra, was hulle woedend gewees, en Jesus sê toe weereens vir die dissipels: ““Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”” (Matteus 20:25 – 28), (1983 vertaling)
Om ‘n dienskneg te wees is ook deel van kindwees. Ek meen kyk na klein kindertjies, wie nog werklik begryp wat die lewe oor gaan nie, hulle speel met enige iemand wie hulle maaitjie wil wees, hulle luister ook maklik na gesagsfigure omdat hulle weerloos is. Ons moet ook elke dag leer om weerloos voor God te staan en met Hom te praat, nie net te praat nie, maar ook saam met Hom die lewe aan te pak. Want as Hy ons bron is dan kan ons Hom werklik geniet selfs in die dale, want dis baie keer daar waar ons Sy hart opnuut ontdek, dis daar waar ons leer werklik kind te wees. As ons met hierdie perspektief kan leef, dan kan ons diensbaar wees en meer, en meer soos Jesus word. Ons kan dan ook ander impakteer deur die manier wat ons leef, want so kan hulle Jesus se liefde en genade nie net sien nie, maar ook beleef.
Werke Aangehaal
1983 Vertaling: Die 1983 Vertaling van die Bybel in Afrikaans, Die Bybelgenootskap van Suid Afrika, Roggebaai 8012, Kaapstad
Du Rand J 2007: Markus, In Die Bybel in Praktyk, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging
Commentaires