Wie is Jesus, en Wie is jy?
- The Shepherd's Way Ministries
- Jun 27, 2021
- 7 min read
Inleiding
As iemand vir jou vra wie is jy, wat sal jou antwoord wees? Wel gewoonlik klink die standaard antwoord so: my naam is, ek doen en ry daardie kar. Dus kan ‘n mens sê in vandag se wêreld word jou identiteit bepaal deur jou naam (reputasie), deur dit wat jy doen (titel). Dus moet ons eerstens vrae: Wie is Jesus? En dan tweedens: Wie is ek in Hom?
1. Wie is Jesus?
Vir party mense is die vraag redelik voor die handliggend totdat jy hulle harte toets en tot die besef kom dat hulle nie werklik besef hoe belangrik die vraag is nie. Want as ek en jy nie die vraag kan beantwoord, dan gaan ons nie werklik kan ontdek wie ons is nie. Wat sê ek? Wel as jy nie weet wie Jesus Christus werklik is nie, gaan jy nie weet wie jy is nie.
So wie is Jesus? Kom ons begin die gesprek by Matteus 17:1 – 8 wat soos volg begin in vers 1:
“Ses dae later neem Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saam met Hom en vat hulle teen ’n hoë berg uit waar hulle alleen was.” (NLV 2017)
Eerstens merk ons op dat Jesus drie van Sy binne – baan dissipels saam met Hom geneem het en dat hulle alleen was op die berg en toe gebeur die volgende, vers 2:
“En daar, terwyl hulle na Jesus kyk, het sy voorkoms verander. Sy gesig het begin straal soos die son. Sy klere het skitterwit geword.” (NLV 2017)
Ek wonder wie hier het al ooit gesien hoe lig uit iemand straal? Dis ‘n vreemde vraag, maar dit wat die dissipels hier beleef het was vir hulle vreemdt gewees, dit was ongewoon gewees en hulle het dit nie verstaan nie. Hulle het selfs vir Elia en Moses gesien wat dit selfs nog meer vreemdt gemaak het (vers 3). So vreemdt was die ervaring gewees dat Petrus die volgende woorde in vers 4 gesê sonder om te besef wat hy einklik sê:
“Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dis wonderlik om hier te wees! As U wil, sal ek hier drie skuilings oprig: vir U een, vir Moses een en een vir Elia.”” (NLV 2017)
Petrus se woorde was nog koud toe die volgende gebeur (vers 5):
“Maar terwyl hy nog praat, oordek ’n helderglansende wolk hulle, en daar kom ’n stem uit die wolk wat sê: “Hý is my geliefde Seun. Hy is ’n Kind so na my hart. Doen wat Hy vir julle sê.”” (NLV 2017)
Ek wil hê julle moet iets opmerk, God die Vader het nie gesê wie Jesus vir die dissipels is nie Hy het vir hulle gesê wie Jesus vir Hom is. Hierdie is belangrik en selfs Paulus het geweet hoe belangrik dit is toe hy die volgende woorde in Kolossense 1:15 – 20 neergepen het:
“Die Seun is die sigbare uitbeelding van die onsigbare God. Hy is die Eerste van die hele skepping, omdat God alles deur Hom geskep het. Ja, alles in die hemel en op die aarde – die dinge wat gesien kan word en die dinge wat nie gesien kan word nie, of dit nou konings of heersers, regeerders of magshebbers is – álle dinge is deur Hom en vir Hom geskep. Hý was daar vóór alles, en in Hom word alles saamgebind. Hý is die hoof van die kerk, sy liggaam. Die Seun is die begin. Hy is die Eerste wat uit die dood opgestaan het sodat Hy inderdaad eerste in alle dinge is.God het dit goedgedink om met sy volle Goddelikheid in die Seun te woon, en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy vrede gemaak. Ja, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.” (NLV 2017)
Wat sê Paulus in die teks? Dis heel eenvoudig dat Jesus die middelpunt is van die heelal en dat alles rontom Hom draai. Paulus het baie duidelik geweet dat as mens werklik wil ontdek wie jy is, dan moet jy na die bron toe gaan waar alles begin en eindig. Dis wat die dissipels daardie dag gesien het, want hulle reaksie op die bulderende stem wat hulle gehoor het was abolute vrees gewees, hulle het sommer uit reaksie op die stem op die grond soos dooies neergeval en Jesus doen toe die volgende baie kosbare ding (vers 7):
“Daarop kom Jesus na hulle toe en sit sy hand gerusstellend op hulle: “Staan gerus maar op; moenie bang wees nie.”” (NLV 2017)
2. In Christus jou Identiteit
Kyk mooi die dissipels reageer uit vrees vir die heerlikheid van God en die Seun, die Geliefde van die hemel stel hulle, gerus dat hulle nie hoef bang te wees nie. Maar hoekom? Wel omdat die dissipels in verhouding met Jesus staan, en dus die vooreg het om te kan deel in dit wat Syne is. Hierdie is kragtig want die oomlik wat iemand ontdek wie Jesus is, dan deel hy of sy in die indentiteit van Jesus, in die sin dat hulle nie meer sondaars of verlorenis is nie, hulle is nou die geliefde seuns en dogters God, en Hy is stil te vrede met hulle. Laat ek dit weer sê, as jy in Jesus is, is God stil te vrede met jou. Kyk bietjie wat sê die volgende paar verse:
Johannes 1:12
“Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” (NLV 2017)
Galasiërs 3:26
“Julle is almal God se kinders deurdat julle in Christus Jesus glo.” (NLV 2017)
Wat sê die twee verse vir ons, dat ons sondaars is wat gered is uit genade? Nee dit sê vir ons een ding dat ons kinders is wat gered is uit genade. Ons was sondaar, maar ons is nou nuut gemaak. Kyk wat sê Paulus in 2 Korintiërs 5:17:
“Daarom – iemand wat aan Christus verbind is, is ’n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!” (NLV 2017)
Laat ek dit hard en duidelik sê. JY IS ‘N NUUTGEMAAKTE KIND VAN GOD! En nog veel meer, want jy het die vooreg om die troonkamer van God binne te gaan en direk met Hom te praat, net soos Moses het jy die vooreg om met God te praat soos wat jy met ‘n vriend kan gesels, en Hy is altyd beskikbaar (Hebreërs 4:16). Ons posisie het ook verander in die sin dat Christus Sy gesag aan my en aan jou gee kyk bietjie wat sê Paulus rakende ons posisie in Christus:
Efesiërs 2:6
“Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ’n sitplek in die hemel gegee.” (NLV 2017)
3. Erfgename van God
Wie het ‘n sitplek saam met Christus in die hemel? Almal wat aan Christus behoort, wat beteken ek en jy is die erfgename van God en niemand en niks kan dit van ons ontneem nie. Nie eens ons omstandighede nie. Paulus leer vir ons die volgende:
Romeine 8:1 – 2
“Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem. Die lewegewende Gees is so magtig dat Hy jou deur Christus Jesus bevry het van die greep van die sonde wat uitloop op die dood.” (NLV 2017)
Eerstens sê Paulus dat die wie in Christus is, nie meer veroordeel word nie, tweedens sê hy dat ons nie meer in die greep van sonde is nie. Wat beteken ons is nie meer slawe van sonde nie, maar slawe van geregtigheid (Romeine 6:15 – 23). Dus begeer ons nie meer om te doen wat ons sondige natuur wil doen nie, ons begeer nou om te doen wat Christus wil doen, omdat Hy ons identiteit verander het. Dis hoekom Paulus die volgende sê in vers 9:
“Maar julle word nie deur julle sondige natuur beheer nie. Julle word beheer deur die Gees omdat die Gees van God in julle woon. Onthou, iemand wat nie die Gees van Christus het nie, is nie een van sy mense nie!” (NLV 2017)
Hoekom sê Pulus dat die wie nie die Gees het nie, is nie deel van Christus se mense nie, omdat dit deur die Heilige Gees is wat ek en jy wedergebore word Jesus het immers die volgende gesê vir Nikodemus:
Johannes 3:3
“Jesus het daarop reageer: “Ek verseker jou, as iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”” (NLV 2017)
Paulus self sê day God ons merk as Sy eiendom deur die Heilige Gees in Efesiërs 1:15. Dus behoort ons nou aan God en nie meer aan ons self nie. En omdat ons aan Hom behoort is ons meer as oorwinnaars, en niks maar niks kan ons skei van Sy liefde nie lees saam met my die volgende teks gedeelte:
Romeine 8:31 – 39
“Wat sal ons dan van al hierdie wonderlike dinge sê? As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees? As God nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgegee het, sal Hy nie saam met Hom ook alle ander dinge aan ons skenk nie? Wie sal dit waag om ons aan te kla as God ons spesiaal uitgekies het? God is immers die Een wat ons vryspreek. Wie sal ons veroordeel? Christus Jesus is tog die Een wat vir ons gesterf het, wat boonop ook opgestaan het, wat op die ereplek langs God sit en wat daar vir ons pleit. Kan enigiets ons ooit van Christus se liefde skei? Sal dinge soos lyding of benoudheid of vervolging, honger of koue, of gevaar of doodsdreiging dit regkry? Selfs die Skrif verklaar tog: “Om u ontwil bedreig die dood ons die hele dag en word ons as slagskape beskou.” Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ’n klinkende oorwinning te behaal – deur Christus wat sy liefde so duidelik aan ons bewys het. Een ding weet ek vas en seker: Niks kan ons ooit van Christus se liefde skei nie. Nie dood of lewe of engele of duiwelse magte nie; nie ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre nie; ook nie bo-aardse magte nie. Ja, hoegenaamd niks daarbo of onder in die dieptes of elders in die skepping sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie.” (NLV 2017)
Slot
Geliefdes as jou identiteit gevestig is in Christus kan niks dit van jou af weg vat nie. Jou erfenis is veilig by Hom en niks maar niks kan jou van Hom skei nie. Jesus self en ek sluit af met die vers het die volgende belofte gemaak:
Johannes 10:29 - 30
“My Vader, wat hulle aan My gegee het, is magtiger as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader steel nie. Ek en die Vader is één.”” (NLV 2017)
Werk Aangehaal
NLV 2017: Nuwe Lewende Vertaling Bybel, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging,1930.
Comments