top of page
Search

Onverklaarbare Storms in die Lewe

Storms, tragedies en traumas is dinge wat elkeen van ons as gelowiges beleef in die lewe en om eerlik te wees ons verstaan nie altyd hoekom die dinge altyd gebeur nie. Ja ons weet natuurlik dat die primêre rede hoekom dinge in die wêreld is soos wat dit is, is as gevolg van die mens se sonde, wat sederd die tyd van Adam en Eva al ‘n geweldige effek het op die aarde het (Genesis 3). Mense vermoor, verkrag, besteel mekaar en dan praat ons nie eens van die feit dat ons die aarde besoedel nie, maar dit bring nie noodwenidg vir ons die troos waarna ons soek nie. Ons het dus ‘n Godelike perspektief nodig wanneer dit kom by die swaarkry van hierdie lewe, want dis slegs by Hom waar die ware lewe lê.

Iemand wat ‘n godelike perspektief gehad was Asaf gewees toe hy in Psalm 77:1 – 11 sy saak baie eerlik voor God gestel het, want hy het geweet dat die God die enigste een is wat hom deur hierdie moeilike tyd kon dra selfs al was die pyn wat hy beleef onverklaarbaar. Maar hy stop nie daar nie, want wat hy volgende doen is iets kosbaars, hy herinner homself vanaf vers 12 – 21 oor alles wat God in die verlede gedoen het, want deur dit te doen herinner hy homself dat God goed is, dat Hy getrou is en dat Hy nog steeds lief vir Hom is ten spyte van sy omstandighede. Vir ons as gelowiges is dit soms nodig veral as dinge nie uitwerk in die lewe nie, is dit nodig om terug te kyk na hoe God ons gedra en geseën het op onbeskryflike maniere, want dit herinner ons aan wie Hy is en dat Hy nooit verander nie (Hebreërs 13:8).

Hierdie is ‘n belanrike oefening, want alhoewel Jesus nie ‘n antwoord op al die swaarkry in die lewe gegee het nie, is daar een ding wat ons vir mekaar kan sê en dit is dat Hy die antwoord op al die swaarkry van die wêreld geword het. Hierdie herinner my aan die woorde van Jesaja 53:3 - 4 wat sê: “Hy was verag en deur die mense verlaat, 'n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie 'n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte — dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.” (1953 vertaling) Die pyn wat Jesus deur Sy leiding en sterwe beleef het is iets onbeskryflik, ‘n mens kan jou nie indink hoe dit moet wees om te sterf op die manier wat Jesus gesterf het nie.

Want die moment wat Jesus die tuin van Getsemane betree het, het Hy in sy binneste freesbevange en onsteld geword, want Hy het in die moment die gewig gevoel van die prys wat Hy vir biljoene mense se siele sou betaal. Die fisiese pyn om deur middel van marteling en die kruis te sterf was een ding, maar saam met dit sou Jesus die hele mensdom se sondes en smarte op Homself neem sodat hulle deur Hom verlos en weer versoen kan word met die Vader en Hy het dit gewillig vir my en vir jou gedoen. Hebreërs 12:1 – 2 sê onder andere: “DAAROM dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.” (1953 vertaling)

Jesus net egter nie net gesterf nie, maar het uit die dood opgestaan en elkeen wat vandag in geloof gekom het, of wat nog tot geloof sal kom deel in Sy dood en in sy opstanding (Galasiërs 2:20 en Efesiërs 4:22 - 24). Met ander woorde jou ou mens sterf en jou nuwe mens staan op in Hom. Hierdie is egter nie ‘n eenmalige proses nie, maar ‘n daaglikse proses waar ons gevrom word om al meer en meer te word soos Jesus want dis waartoe ons geroep is soos wat Paulus sê in Romeine 8:29 – “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (1953 vertaling)

Nie net verander God ons deur die Heilige Gees om meer en meer soos Sy Seun te word nie, maar Hy maak ons ook deel van Sy huisgesin soos wat Hebreërs 2:11 – 13 dit stel: “Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie, wanneer Hy sê: Ek sal u Naam aan my broeders verkondig, in die midde van die gemeente sal Ek U prys; en verder: Ek sal my vertroue op Hom stel; en verder: Hier is Ek en die kinders wat God My gegee het.” (1953 vertaling) Hierdie beteken natuurlik nie dat ons nou op dieselfde vlak is as Jesus nie, maar dat Hy ons opgetrek het na Sy vlak toe. Met ander woorde ons is nou nie meer sondaars nie, maar kinders van die Allerhoogste God wat heilige gemaak is en wat nog steeds groei in die heiligheid soos wat Hy ons verander.

Ons het dus ‘n ouer broer wat presies verstaan hoe ons voel wanneer ons deur onbeskryflike pyn gaan weens dinge wat in hierdie gebroke wêreld gebeur. Of dit nou deur die toedoen van mense se hande is en of deur omstandighede, dink ek dis belanrik om dit te sê, en dit is as jy deur ‘n moeilike tyd gaan dat Jesus by jou is. Dalk hou jy nie nou van Hom nie, maar Hy voel nie dieselfde oor jou nie, want selfs al twyfel jy nou, hou Hy jou styf vas in Sy arms veral wanner jy nie verstaan nie. Petrus self wie self geleer het om op Jesus te vertrou in moeilike situasies soos wat gesien kan word in Matteus 14:27 – 31, het die volgende kosbare woorde gesê: “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1 Petrus 5:7), (1953 vertaling)

As jy dus op die oomblik in ‘n strom gewikkel is vetrou dat Jesus jou deur die storm sal dra, en rig jou bekommernisse, jou vrae en jou twyfel na Hom toe. Want Hy kan dit vat en hou vas aan Hom want Hy verstaan presies waar deur jy gaan, selfs al verstaan jy dit nie. Want Hy is die heerlikheid, die genot en die genade van God self, en in Hom en deur Hom is jy ‘n kind van God, maak nie saak of dit met jou goed of sleg gaan nie, of jy ryk of arm is nie. Want as jy in Jesus Christus is, is jy ‘n kind van God (Johannes 1:12; Romeine 8:1; 2 Korintiërs 5:17).

Werke Aangehaal

1953 vertaling: Die 1953 vertaling van die Bybel, Die Bybelgenootskap van Suid Afrika


 
 
 

Recent Posts

See All
Die Kosbaarheid van die Seun

Wie is Jesus en waarom is Hy so belangrik? Wel hierdie vraag is geweldig belangrik want dit bepaal ons hele lewe. Dit bepaal wat ons dink...

 
 
 
Geroep om soos Jesus te word

Wat dink jy iemand is wat geroep is om ‘n verskil te maak in hierdie wêreld? Baie mense het in die verlede en selfs vandag gedink dat...

 
 
 

Comments


© 2023 by Marketing Inc. Proudly created with Wix.com

bottom of page