‘n Ware Dissipel Leer elke Dag om Jesus Nuut te Leer ken
- The Shepherd's Way Ministries
- Jan 9, 2023
- 3 min read
Wie is Jesus? Is een van die belanrikste vrae wat ‘n dissipels van Jesus kan vra en waarmee ‘n dissipel hulself besig hou. Want dit is om Jesus elke dag te volg waardeur ‘n mens leer wie Hy is en om Hom te volg begin deur om elke dag tyd deur te bring in Sy Woord en toe te laat dat die Heilige Gees die skrif vir jou oopbreek sodat jy sensitief sal raak vir Sy stem, en dat jy in liefde deur Sy krag Hom sal gehoorsaam. As ‘n mens hierdie fondasie het dan kan ‘n mens Jesus werklik leer ken en op vars maniere herontdek. Maar as die fondasie nie in plek is nie dan is die gevaar daar dat jy dalk ‘n valse Jesus vir jou self gaan skep wat vir jou op die ou end vaag, vervelig en voorspelbaar gaan wees. Die rede hoekom ek dit sê is ons moet onthou dat die ware Jesus ‘n mens altyd sal uitdaag en ook soms sal onstel want dit is hoe dissipels leer. Ware dissipes neem dus nooit aan dat hulle Jesus ken nie, want hulle weet dat dit ‘n lewenslange proses is. Dus die oomblik wat jy ophou leer by Jesus, dis wanneer jou geloof sterf want dan het jy vergeet hoe nodig jy Hom werklik het.
Dit neem my natuurlik terug toe Jesus is Sy eie tuisdorp verwerp was. Jesus het so pas klaar die mense en die dissipels deur gelykenisse geleer en het toe vertrek na Nasaret toe en toe Hy daar aankom het Hy soos gewoonlik die mense geleer in die sinagoge, en toe hulle gehoor het wat Hy vir hulle geleer het sê hulle vir mekaar: “Waar kry Hy hierdie wysheid en kragte vandaan? Is Hy nie die seun van die timmerman nie? (kan ook as skrynwerker vertaal word) Is die naam van sy moeder nie Maria en dié van sy broers Jakobus en Joses en Simon en Judas nie? En sy susters, is hulle nie almal by ons nie? Waar kry Hy dan al hierdie dinge vandaan?” (Matteus 13:54 – 56), (1953 vertaling) Dis duidelik dat die mense Jesus baie goedgeken het want van hulle het saam met Hom groot geword, hulle het selfs Sy broers en susters geken, en daarom was dit vir hulle vreemd gewees om die dinge wat Hy hulle nou leer te kon aanvaar. Hulle kon doodeenvoudig nie glo dat die seun van ‘n skrynwerker die Messias kon wees nie. Hierdie sou vir Jesus natuurlik ‘n bitter seer oomlik gewees het, want die mense wie die meeste toegang tot Hom gehad het, het Hom verwerp. Dis hoekom Jesus vir die mense gesê het: “'n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en in sy huis.” (Matteus 13:57), (1953 vertaling).
Jesus was as profeet in sy eie tuisdorp verwerp net soos wat Jeremia deur sy eie mense en selfs deur sy famielie vewerp was (Jeremia 12:5 – 6), (Duplessis 2007:1407). Hierdie wys net vir ons hoe blind die mense aangaande die waarheid is, want hulle het nie net nog ‘n profeet verwerp nie maar die Messias self en het dit nie besef nie omdat hulle so gewoond was aan Jesus en aangeneem het dat hulle weet wie Hy is. Hy het dus in hulle oë einklik vreemd opgetree en daarom het hulle aanstoot geneem.(Joubert 2016:33). Dis hoekom ons die volgende lees: “En Hy het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie.” (Matteus 13:58), (1953 vertaling) Mense gebruik natuurlik die teks verkeerdelik om te sê dat Jesus nie baie wonderwerke kon doen nie. Die waarheid is egter dat Hy nie baie wonderwerke wou doen nie weens die harde harte van die mense saam met wie Hy grootgeword het. Hulle was ook weens hulle harde harte trots gewees en gedink dat hulle beter weet en dit kon Jesus doodeenvoudig nie vat nie, en daarom het Hy geweier om baie wonderwerke te doen want selfs dit sou hulle nie oortuig nie.
Wie is Jesus? Is die vraag wat jy as dissipel lewenslank moet vra. Dis hoekom wanneer ons tyd spandeer met die Here in Sy Woord dan kom ons altyd met die houding, praat Here U dienaar luister. Ons kom dus met ‘n leerbaarheid na die Here toe om meer aangaande Hom te leer en hoe meer ons aangaande Hom leer hoe meer leer ons wie ons werklik is en wie Hy ons gemaak het om te wees. Dis ‘n ongelooflike vooreg om Jesus te kan ken, want dis in Hom en deur Hom wat ons ontdek wat die lewe werklik oor gaan want buite Hom is daar geen lewe nie.
Werke Aangehaal
1953 vertaling: Die 1953 vertaling van die Bybel, Die Bybelgenootskap van Suid Afrika
Du Plessis I J 2007: Matteus, In Vosloo W en Janse van Rensburg F (Redakteurs), Die Bybel in Praktyk, Christenlike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging, 1930
Joubert S 2016: Die dag toe Jesus ja gesê het, Christenlike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging, 1930
Commentaires