Leef van Binne na Buite
- The Shepherd's Way Ministries
- Aug 1, 2022
- 6 min read
Wat dink jy as jy dink aan wat aangaan in jou hart, en in jou kop? Veral as jy as jy werklik ‘n lewe wil lei wat Jesus – gedrewe is en nie net voorgee om Hom te dien nie. Met ander woorde. Waar lê jou fokus werklik? Dit maak natuurlik baie saak, want dit wat op jy fokus rig jou hele lewe. Dis natuurlik baie makliker om voor te gee om die regte dinge te doen waar mense dit kan sien, want hulle weet nie wat jou bedoelings daarmee is, of wat werklik aangaan in jou hart nie. Maar God, God weet wat werklik in jou diepste wese aangaan. Dit moet ons as gelowiges natuurlik nie bang maak nie, in teendeel dit moet ons juis laat met ‘n diep ontsag vir Hom, en in dieselfde asem vertroos omdat ons met ‘n oop hart na die Here toe kan gaan en Hom kan vra om ons te help om ons hart en gedagtes op die regte dinge te rig, want as ons hart en gedagtes op die regte dinge gerig is dan sal ons ‘n lewe kan lei wat ‘n vesrkil maak.
Jesus self het die volgende gesê: ““Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak. Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery. Dít is die dinge wat 'n mens onrein maak, maar om met ongewaste hande te eet, maak 'n mens nie onrein nie.”” (Matteus 15:18 – 20), (1983 vertaling) Die agtergrond van die teks is waar Jesus die Fariseërs berispe het omdat hulle baie begaan was oor hulle menslike tradiesie as oor dit wat vir God belanrik was. Hulle was dus meer gestel op die uiterlike reinheid, maar hulle harte was ver van rein af. Ons as gelowiges moet ook versigtig wees om nie in die slaggat te trap nie, want ons samelewing self is baie ingestel op die uiterlike en probeer ons ook so te leer om van buite na binne te leef, in pleks van om van binne na buite te leef. Want dit wat aangaan in jou hart is wat vir God die meeste saak maak, want wat in jou binne wêreld werklik aangaan, gaan jy ook uitleef. En dit gaan of God verheerlik, of jy gaan jouself verheerlik, en jou eie belange ten koste van Hom en ander vooropstel.
Nog ‘n ding wat Jesus gesê het in terme van waar ons, ons fokus of ons oë moet plaas is die volgende: ““Die oog is soos die lamp vir jou liggaam. As jy opreg en eerlik na mense kyk, sal jou hele lewe daarby baat, net asof die lamp alles in jou verlig. As jy egter met kwade bedoelings na mense kyk, sal jou hele lewe donker wees, asof daar geen lamp of lig in jou is nie. Niemand kan God en Mammon gelyktydig as baas dien nie”” (Matteus 6:22 – 23), (Joubert en van der Watt 2022) Dit wat Jesus hier sê is lewens belanrik, want ons moet leer om deur Jesus se oë na die wêreld te kyk, en die enigtse manier wat ons dit kan doen is om ons hart en gedagtes op Hom te rig, en op dit wat vir Hom belanrik is. Natuurlik is dit nie maklik nie, want die wêreld gooi ‘n klomp geraas na ons kant toe, en ek dink die groostse geraas in ons wêreld vandag is die slegte nuus wat ons al dag hoor. Want soos Stephan Joubert al in baie van sy preke gesê het “nothing sells like bad news”. En die rede hoekom ons so maklik daarvoor val is omdat die brein makliker dink aan die negatiewe as aan die positiewe. Dis hoekom mense so maklik oor die probleme wat ons hier in Suid Afrika beleef kan kla, hulle kla, maar doen niks aan die probleme nie. Dit beteken nie dat daar nie probleme is nie, daar is verseker, maar ons gaan onself moet inoefen om ons oë op Jesus te vestig en moet leer om met omgee oë na die wêreld te kyk. Uitdaagend? Verseker! Die moeite werd? Definitief, dis wonderlik wanneer jy saam met Jesus jou land te begin dien, want dan begin jy om te sien waar en hoe Hy in die land werk, en dit verander nie net jou nie, maar ook die rondtom jou. Jy kyk met ander woorde met Jesus - oë na mense.
Jesus sê ook in die gedeelte dat ons nie moet toelaat dat geld ons baas word nie, want dit kan ook ons oë afhaal van God af. Geld glo dit of nie kan jou ook een groot klakous maak, maar as jy dit aanwend vir die koninkryk en God daarmee dien dat kan dit ook groot verandering bring in jou werksplek, en in jou omgewing. Die vraag is net waar lê jou skat? (Matteus 6:21)
Nog ‘n ding wat Jesus gesê wanneer dit kom by ons harte en gedagtes was: ““Julle ken ook die volgende wet: ‘Moenie by iemand slaap met wie jy nie getroud is nie.’ “Ek sê egter vandag vir julle dat slegte begeertes reeds in ’n mens se kop begin, nie in dit wat ’n mens doen nie. As jy byvoorbeeld op so ’n manier na ’n ander vrou kyk dat jy haar in jou gedagtes seksueel begeer, het jy eintlik al klaar by haar geslaap. En dan het jy God se voorskrif oortree.”” (Matteus 5:22 – 23), (DB 2015) Die Fariseërs in Jesus se dag was baie trots daarop dat hulle nie uiterlik egbreuk gepleeg het nie, en dus het hulle gedink dat hulle gehoorsaam was aan die wet. Maar Jesus lig die standaard deur te sê dat God meer besorg is wat in jou binneste aangaan omdat dit dit weereens die gang van jou lewe bepaal. Jesus wil ook die Fariseërs en die mense van Sy dag leer dat mense nie objekte is waarmee ons kan doen waarmee ons wil nie, nee, mense is geskape in die beeld van God. Dus as ons of dit nou vrou of man met welus begeer dan is ons einklik besig om na so ‘n persoon te kyk op ‘n onwaardige manier, en dit bring geen eer aan God nie. Ons is ook liefdeloos wanneer ons dit doen omdat ons, onself wil bevredig. Daarom is dit nie gepas vir ‘n gelowige om dinge soos pornografie en flieks met eksplisiete tonele te kyk nie, want dit gaan jou gedagtes nie rig op God nie, maar op dit wat jy wil hê.
Nou ons kan natuurlik nie vermy dat sulke gedagtes in ons kop opkom nie, maar ons kan besluit wat ons daarmee doen. Paulus self het die antwoord gehad toe hy gesê het: “en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.” (2 Korintiërs 10:5), (1983 vertaling) Dus wanneer slegte gedagtes op jou pad kom moet jy hulle nie vertroetel nie, maar juis gevange neem en onderdanig maak aan Christus, want net Hy kan jou help teen die verleiding te kan weerstand bied (Hebreërs 2:18 en Jakobus 1:14 - 18). Ons moet ook onthou dat dit nie vanself gaan kom nie, want jy gaan soms val en dus is dit nodig om vir Jesus te vra om jou te help om te oefen om jou gedagtes op Hom te vestig. ‘n Pragtige vers waaraan ons, onself die heeltyd moet herinner is Kolossense 3:2 – 4 wat sê: Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel. (1983 vertaling)
Ons gedagtes is vir God belanrik omdat dit ons binne wêreld dryf, en ons binnewêreld dryf hoe ons optree en hoe ons mense behandel. Nee ons is nie noodwendig altyd gestel daarop om te dink en te glo soos Jesus nie, dis ‘n ding wat ons op ‘n daaglikse manier moet inoefen. Ons moet onself dus daarop toespits en elke dag op nuwe maniere leer te buig voor Jesus en in Sy voetspore te volg deur om mense te dien, en deur om hulle aan te raak met Sy liefde en waarheid. En die beste plek om die rys te begin is deur om God se Woord te lees, te deurdink, en stil te wees in Sy teenwoordigheid. Dan kan jy jou geloof sinvol in van binne na buite in hierdie wêreld uit leef en die Here werklik in opregtheid dien met jou hart, kop en hande, dan leef jy Jesus magneties na en trek dit mense nader aan Hom.
Werke Aangehaal
1983 Vertaling: Die 1983 Vertaling van die Bybel in Afrikaans, Die Bybelgenootskap van Suid Afrika, Roggebaai 8012, Kaapstad
DB 2015: Die Geloof in Aksie Bybel met die Boodskap Teks 2006, Christenlike Uitgewers Maatskapy, Vereeninging
Joubert en van der Watt 2022: Die Nuwe Nuwe Testamet, Carpe Diem Media
Comments