Jesus het jou bervry van jou eie Poging
- The Shepherd's Way Ministries
- Aug 15, 2022
- 6 min read
Dis die jaar 55 n.C. en Paulus is in Korinte en het nuus ontvang dat dit nie goed gaan met die kerk in Galasië nie. Paulus het 6 – 7 jaar terug die evangelie aan die Galasiërs verkondig, en in die boodskap wat hulle ontvang het, was een van vryspraak in en deur Jesus Christus, en dat hulle alleenlik uit genade deur geloof alleen gered kan word (Huffstutler 2017). Met ander woorde hulle kon niks uit hulleself doen om verlos te word nie, want Jesus is die een wie die wet en die profete kom vervul het, en wie die prys betaal het wat hulle nie kon nie. Maar intussen het die Jode in die omgewing vir die nie – Joode begin voorskryf dat as jy gered wil word moet jy nie net vir Jesus volg nie, maar jy moet ook die wet van Moses onderhou, wat hulle ook natuurlik voor geval het (Janse van Rensburg 2007:1804). Maar wat is die probleem met hierdie ridenasie?
Eerstens moet ons in ag neem dat die wet nooit bedoel was om ‘n mens te verlos nie, maar om die mens bewus daarvan te maak dat hy of sy ‘n redder nodig het, Een wie nie net jou bevry van jou eie poging nie, maar ook een wat jou gewillig maak om tot Sy eer te leef (Romeine 3:20, 7:7, 10:4; 1 Timoteus 1:9). Kom ek gebruik die speletjie slangetjies en leertjies wat Alan Platt van praat in die boek Dit is Volbring. Die wet werk baie soos die speeletjie, want soos jy die dobbelstentjies gooi klim jy mos ‘n leertjie, daar is egter ‘n probleem, want bo aan die leertjie is ‘n slang en as jy by sy kop beland dan val jy weer tot heel onder. Dis presies wat gebeur as jy deur middel van die wet jouself probeer red, jy kom tot bo net om te ontdek dat jy nie goed genoeg is nie, en dis die probleem wat die hele wêreld mee sit. Mense in die wêreld wat buite Christus is, jaag doodgewoon sukses, roem en eer na tot hulle eie ondergang, want alle mense was einklik gemaak om God te eer en om in verhouding saam met Hom te leef. Hulle is dus verlore en volgens die wet staan hulle skuldig voor God omdat hulle nie volgens Sy standaarde kan leef nie, want niemand kon nog ooit die wet gehoorsaam nie, behalwe Jesus (Romeine 3:23 – 24, 8:7 en 5:12 - 21). Hy is die sleutel, die een wat die groot verskil kom maak het, en deur wie mense verlos kan word (Johannes 14:6 – 7).
Daarom het Paulus die volgende aan die gemeente in Galasië gesê: “Julle wat deur God vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, het julle van Christus losgemaak. Julle het God se genade verbeur.” (Galasiërs 5:4), (NLV 2017) Dit wat Paulus hier sê is geweldig, want ons moet besef dat die outeur van die wet Christus self is, en dus is Hy die enigste manier wat ons gered kan word. As jy deur die wet gered wil word in plaas van Christus, dan sê jy einklik vir Hom dat jy jou eie god wil wees, en dat jy jouself op jou manier gaan red. Met ander woorde Sy soendood was nie goed genoeg nie. Dit gaan nie lank wees nie dan gaan jy weer skuldig, seer en skaam voel, en gaan jy weer begin om te kompeteer met ander, en selfs jouself met hulle te vergelyk, omdat jy buite God se wil leef. En wat is God se wil? Wel God se wil het ‘n naam, en dit is Jesus, en Hy is ook die plan wat God elke mens na toe nooi, want in Hom ontdek jy wie jy werklik is, jy ontdek jou doel hier op aarde, en in Hom en deur Hom word jy ‘n kind van God genoem omdat Hy die Geliefde van die Hemel is (Matteus 3:16 – 17, 17:5 en Johannes 1:12). Jesus noem selfs die wie in Hom is, Sy broers (Hebreërs 2:11 – 12). Dit beteken egter nie dat ons op die selfde vlak as Hy is nie, dis eerder Hy wat ons optrek na Sy vlak toe. Met ander woorde ons word deel van die huisgesin van God, net soos wat Adam en Eva was voor hulle die opdrag van God verontagsaam het. Dit is immers wat Jesus in Homself kom regstel het.
Jesus is met ander woorde genoeg dis wat die Nuwe Testament deur en deur sê, omdat Hy die middelpunt van alles is (Kolossense 1:15 – 20). Daarom sê Paulus: ““Vir mense wat met Christus verenig is, is dit nie belangrik of jy besny is of nie besny is nie. Wat egter wel belangrik is, is geloof wat deur liefde dade word.”” (Galasiërs 5:6), (NLV 2017) Mense wie hulle knee voor die Lam buig ontdek iets geweldig, en dit is dat hulle identiteit of waarde nie bepaal word deur dit wat hulle ry, of waar hulle bly, of hoe hulle lyk nie. Hulle identiteit en waarde is gesetel in wie Jesus is. Paulus self sê dit so mooi in Fillipense 1:21 – “want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.” (1983 vertaling)
Die ander kant is ook waar en dit is dat as mense deur die wet hulleself probeer red sal hulle altyd hul identiteit en waarde op die uiterlike en verganklike plaas. En dis nie omdat die wet sleg is nie, inteendeel die wet is heilig, dis einklik die mens se eie sonde wat hulle verhoed om die wet te kan gehoorsaam, en todat hy of sy nie kan erken dat hulle verlore is nie, sal hulle die heeltyd dinge aan hulleself en aan ander doen, sodat hulle kan beter voel oor hulleself (Romeine 7:12).
Paulus sê ook dat ons geloof moet dade word, wat uitgedruk word in liefde. Maar watter tipe liefde praat Paulus hiervan? Hy praat van die liefde van Christus wat Hy vir ons gehad het toe Hy aan die kruis in ons plek gesterf het, en weer na drie dae uit die dood opgestaan het vir ons geregtigheid (Romeine 4:25). Jesus self sê: ““Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”” (Matteus 22:37 – 40), (NLV 2017) Dit wat Jesus hier sê is geweldig kosbaar want liefde vir God praat van die feit dat jy onderdanig is aan Hom en in verhouding met Hom staan, jy weet met ander woorde nie net dinge oor God nie, maar jy ken Hom en geniet Hom. Tweedens sê Jesus dat ons, ons naaste moet lief hê soos onself, wat beteken ek en jy moet die persoon langs ons lief hê asof ons hulle is. Wat beteken ek is bereid om my lewe vir jou neer te lê selfs al is jy my vyand. Jesus self het immers vir Sy vyande gesterf, en as ons op die manier liefhet dan leer ons wat dit werklik beteken om onself lief te hê in Sy teenwoordigheid (Romeine 5:6). Dis soos 1 Johannes 4:19 dit stel: “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.” (1983 vertaling)
Ons wat in Christus is dus bevry van ons eie poging om te lewe tot Sy eer, en nie net lewe ons tot Sy eer nie, maar ons doen dit ook in Sy krag (Romeine 8:26; Galasiërs 5:16; Hebreërs 2:18 en Jakobus 4:6 - 7). Ons waarde en identiteit is ook in Hom gesetel, daarom sê Paulus in Romeine 8:37 – 39:”Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (1983 vertaling) Paulus sê die dinge omdat hy geweet het dat die hemel, of die ewigheid nie ‘n plek is nie, maar ‘n persoon is, en dit Sy naam is Jesus, en as jy jou knee voor Hom gebuig het, het jy die weg, die waarheid en die lewe ontdek. Jy doen dus nie meer die lewe uit jou eie krag, en op jou eie manier nie, jy doen dit nou in Hom, deur Hom en saam met Hom. En in dit beleef jy die heerlikheid, vrede, hoop en liefde van God tot op so ‘n mate dat die mense rondtom jou dit ook kan beleef. Wandel saam met Hom.
Werke Aangehaal
1983 Vertaling: Die 1983 Vertaling van die Bybel in Afrikaans, Die Bybelgenootskap van Suid Afrika, Roggebaai 8012, Kaapstad
Huffstutler D 2017:A Timeline of Paul’s Ministry in Galatians and Acts, Online Article, Accessed from: https://religiousaffections.org/articles/biblical-studies/a-timeline-of-pauls-ministry-in-galatians-and-acts/
Janse van Rensburg F 2007: Galasiërs, In Die Bybel in Praktyk, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging
NLV 2017: Nuwe Lewende Vertaling Bybel, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging,1930.
Commentaires