top of page
Search

God se Vaderhart vir Verlore Mense

Hoe lyk jou beeld van God? Is Hy kwaai? Is Hy vriendelik? Voel dit of Hy vêr van jou af is, of dat Hy nie in jou belangstel nie? Dalk voel jy Hy het jou dalk vergeet? Elkeen of ons nou klein of groot is, het ‘n idee van wie God is, en waar meeste van ons leer van wie God is, is van ons ouers af, of ons onderwysers. Dit beteken natuurlik dat ouers en onderwysers ‘n ongelooflike groot verantwoordelikheid het om God se hart aan kinders te openbaar, en dis nie maklik nie, want byde ouers en onderwysers is nie perfek nie, hulle het soos alle mense ‘n sondige natuur wat hulle van tyd – tot – tyd laat struikel en daarom moet dat hulle die beste vir ons gegee het wat hulle kon, en ons moet daarom dankbaar vir hulle wees. Dalk het jy nie ‘n pa of ‘n ma nie, of onderwyser, of goeie rolmodelle gehad nie, en sukkel jy om God as Vader te leer ken, en tog ryk God vandag na jou toe uit en wil Hy Homself aan jou as Vader openbaar. ‘n Vader wat heilige is, wat nie soos ons aardse ouers is nie, Hy het altyd lief en bly altyd getrou, en sal ons nooit verlaat nie. Paulus self het vir die gelowiges in Rome gesê dat niks hulle kan sky van die liefde van God nie (Romeine 8:38 – 39).

Ek weet ook van baie mense wie of nie goeie ouers, of nie eens ouers gehad het nie, en hoe God een persoon op hulle pad gestuur het wie die hart van God op ‘n merkwaardige manier aan hulle geopenbaar het. God weet dat daar mense is wie nooit Sy liefde ervaar het nie, en daarom stuur Hy mense sodat daardie mense nie net Sy liefde kan sien nie, maar dit fiesies kan voel, en ek glo dat Hy vandag elke gelowige oproep om Sy liefde op die manier met mense te deel wie nog nooit van God gehoor het nie, of wat dalk ‘n verkeerde beeld van God het. Die beste manier om die tipe liefde met mense te deel is om die Jesus – lewe eerstens vir hulle te leef, sodat hulle Hom in en deur jou lewe kan sien, en dan ook met hulle te praat oor wie Jesus is, want as hulle Hom ontdek, ontdek hulle ook die Vader (Johannes 14:7). Dus as jy sukkel om God as Vader te sien, kyk na Jesus en ontdek God se hart deur Hom vir jou.

Jesus self moes op ‘n dag vir die Fariseërs wie gereeld mense veroordeel het, geleer het wat dit beteken om werklik God te ken. Ons moet onthou dat die mense opgekyk het na die Farieërs omdat hulle die godsdienstige leiers van die dag was. Wat hartseer was is dat die Fariseërs die wet as ‘n wapen begin gebruik het teen mense, selfs die wie God die nodigste gehad het. Hulle het dus die hart van die wet, die ware betekenis van die wet verloor, want dit het nie meer vir hulle oor God gegaan nie, maar oor wat hulle kon doen en vermag in Sy naam. Ons sien dit ook natuurlik in Lukas 15:1 – 2 waar tollenaars en ‘n klomp ander sondaars saam met Jesus geëet het. Die Fariseërs was natuurlik glad nie ingenome daarmee gewees dat Jesus saam met die soort mense geëet nie, omdat hulle geglo het dat die mense onrein was, en deur saam met hulle te eet het Jesus Homself onrein gemaak. Wat hulle egter gemis het, is dat Jesus besig was om die hart van God aan hulle te openbaar. Daarom vertel Jesus vir hulle twee gelykenisse. Die eerste gelykenis het gehandel oor ‘n verlore skaap, die tweede gelykenis het gehandel oor ‘n verlore munstuk, en toe vertel Jesus die volgende aangrypende verhaal van die jammerhartige pa (Lukas 15:3 – 10).

Die pa het twee seuns gehad, die jongste seun het op ‘n dag vir sy pa gevra of hy sy erfdeel kon ontvang voor dat sy pa sterf, wat natuurlik ‘n verskriklike ding was om van sy pa te vra. Want deur om dit te doen het hy einklik vir sy pa gesê dat hy wens hy was dood gewees, en tog het die pa presies dit gegee wat hy wou hê (Lukas 15:11 – 12). Met die woorde wys Jesus iets van God se hart, en dit is dat Hy lief is vir verlore mense, Hy gee vir hulle kos, klere, ‘n warm bed, ‘n huis om in te slaap en ‘n lewe om te geniet ten spyte van die feit dat hulle teen Hom rebbeleer, gee Hy nog steeds deur sy genade aan hulle goed wat hulle nie verdien nie. Maar hoekom doen God dit? Wel Paulus sê: God is so oorvloedig in sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld teenoor jou. Minag jy dit werklikwaar? Besef jy nie dat God so goed vir jou is omdat Hy vir jou tyd wil gee om tot inkeer te kom nie?” (Romeine 2:4), (NLV 2017) God wil hê dat alle mense Sy kinders sal word, Hy wil hê dat mense gered sal word en hulle ware skeppingsdoel sal uitleef. Daarom is Hy geduldig met mense en gee Hy elkeen die kans om Hom te kies, want Hy sal nie mense vorseer om in verhouding met Hom te staan nie, juis uit liefde uit (Johannes 3:16 en 2 Petrsus 3:9).

‘n Paar dae later gaan die jongste seun verkoop sy besitings, en leef toe ‘n uitspattige lewe met al die geld wat hy gekry het. Hy mors met ander woorde sy lewe op dinge wat geen ewigheidswaarde het nie. Dis nie lank nie, of sy geld raak toe op en toe die geld opraak is al sy friende ook daarmee heen, en om dinge erger te maak is daar ook nog ‘n hongersnood, wat beteken hy sal nou ‘n werk moet kry om te oorleef. Hy kry toe ‘n werk, en dit was op ‘n plaas gewees waar hy varke moes oppas. Ons moet verneem dat die seun ‘n Jood was, en hier sit hy en pas varke op. Die eienaars van die plaas het ook geensins vir hom kos gegee nie, en daarom het hy so honger geword dat hy selfs lus geraak het vir die varke se kos. Die seun het baie duidelik sy lewe opgemors, en het dit ook goed geweet, hy het ook vir homself gesê: “By die huis het selfs die gehuurde werkers meer as genoeg kos, en hier is ek besig om van honger dood te gaan! Ek sal teruggaan na my pa toe en vir hom sê: Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa; 19ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie. Neem my asseblief in diens as ’n gehuurde werker.’” (Lukas 15:13 – 19), (NLV 2017)

Die seun was natuurlik reg gewees, hy verdien nie sy pa se liefde nie, want hy het die lewe wat sy pa vir hom gegee het gemors. Wat die seun nie geweet het nie, was dat sy pa vir hom die ligte aangelos het, en dat hy elke dag vir hom gestaan en wag het om terug huis toe te kom. Want toe hy nog van ver af op die grondpad aangetsap gekom het, het sy pa hom al gesien. Hy het toe die woorde wat hy vir homself gesê het aan sy pa herhaal, maar sy pa wou dit nie hoor nie, inteendeel hy het hom omhels en sy bediendes opdrag gegee om die fees reg te kry. Dis tyd om fees te vier. Die pa het toe vir die seun het ‘n ring aan sy finger laat aan sit, wat sê dat hy nou weer aan sy pa behoort, hy het nuwe klere gekry want sy sondes is vergewe en hy is nou terug in sy vader se huis (Lukas 15:20 – 24).

Hierdie is ‘n ongelooflike mooi verhaal wat vir ons wys hoe God se hart lyk en dat Hy reeds alles gedoen het om redding te bewerkstellig vir elke mens wat in geloof na Sy Seun toe kom, ons moet net bereid wees om dit met ander mense te gaan deel, en nie soos die ouer broer wees wat kla van ‘n afstand af oor hoe sleg sy broer was nie. Want alles wat God sin is, is reeds ons sin, en die fees is klaar gereed gemaak. Dus in pleks van om te kla oor hoe sleg die wêreld is, moet ons weer op nuut na Jesus kyk en God se hart vir verlore mense herontdek, en soveel as moonklik van hulle nooi na die fees wat al voor die grondlegging van die wêreld al voorberei is (Openbaring 13:8). Gaan dan heen en maak dissipels!

Werke Aangehaal

NLV 2017: Nuwe Lewende Vertaling Bybel, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging,1930.


 
 
 

Recent Posts

See All
Die Kosbaarheid van die Seun

Wie is Jesus en waarom is Hy so belangrik? Wel hierdie vraag is geweldig belangrik want dit bepaal ons hele lewe. Dit bepaal wat ons dink...

 
 
 
Geroep om soos Jesus te word

Wat dink jy iemand is wat geroep is om ‘n verskil te maak in hierdie wêreld? Baie mense het in die verlede en selfs vandag gedink dat...

 
 
 

Commentaires


© 2023 by Marketing Inc. Proudly created with Wix.com

bottom of page