top of page
Search

God het Jesus gemaak, en toe maak Hy die mens...?

Updated: Jun 28, 2022

Ek sit vanoggend in ‘n kerkdiens en luister na ‘n ongelooflike mooi preek, en toe na die tyd kom daar twee mense om dit wat die Here op hulle hart geplaas het te kom deel. Die eerste persoon het gedeel hoe Jesus altyd naby aan jou is, en hoe Hy jou nooit sal verlaat nie. Die tweede persoon het gepraat oor die waarde van die mens wat God in die mens geplaas het, hy het onder andere gepraat oor Psalm 8:5 wat sê: “wat is die mens dat U aan hom dink, die mensdom dat U vir hulle omgee?” (NLV 2017) Hierdie vers is kosbaar en praat inderdaad daarvan dat die mens waardevol is omdat die mens geskape is in die beeld van God.

Maar daar is egter een ding wat die persoon gesê het wat uiters gevaarlik was, want hy het gesê dat God Jesus gemaak het, en toe die mens. Die probleem met die stelling is, is dat as Jesus net soos ons geskape was, dan beteken dit dat Hy net soos ons sou gedeel het in die sondige natuur van Adam, en dus sou Hy ook ‘n redder nodig gehad het. Paulus maak dit baie duidelik in Romeine 5:12 – “Toe Adam gesondig het, het sonde in die wêreld ingekom en deur Adam se sonde ook die dood. En so het die dood tot alle mense deurgedring, want almal het gesondig.” (NLV 2017) Dit wat Paulus hier sê is as gevolg van Adam en ons omgehoorsaamheid saam met hom, wat beteken dat elkeen van ons gesondig het, ons almal het teen God gedraai en ons eie manier gekies bo Hom, en dus kort ons ‘n redder, een wat uniek is, een wat nie soos ons is nie. En dit bring ons weereens by Jesus.

Wie is Jesus werklik? Wel as ‘n mens Johannes 1:1 – 4 lees dan sien ons dat Hy voor die begin, die begin was, was Hy alreeds daar gewees, en deur Hom het God die Vader alles geskep. Wat Johannes hier doen is Hy verwys natuurlik terug na Genesis toe, en as ‘n mens Genesis 1:26 gaan lees dan sê God iest merkwaardigs, Hy sê: ““Laat Ons ’n mens maak wat met Ons ooreenstem om te heers oor die visse in die see, oor die voëls in die lug, oor die mak diere, oor die wilde diere, en oor alles wat op die aarde kruip.”” (NLV 2017) Eerste vraag wat ons moet vra is. Wie is die Ons wat God hiervan praat? Wel God praat binne in Homself in die sin dat God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees met mekaar praat en uit Homself die mens vorm in Sy beeld en gelykenis. Dus sien ons ook hier dat God nog nooit iemand nodig gehad nie, want God het al van ewigeheid tot ewigheid af bestaan as ‘n gemeenskap binne in Homself. Dit wil sê, dat God drie persone is, in een wese is. Maar hoekom het Hy dan geskep? Wel die antwoord is onselfsugtige liefde, God het gekies om uit liefde uit te skep. Dit is ook wat die God van die Bybel uniek maak, want geen van die wêreldse godsdienste praat van 'n God van liefde nie, want hulle bestaan nie in 'n drie - eenheid nie.

Dit is dus baie duidelik dat Jesus van die begin reeds daar was, en dat Hy baie duidelik nie ‘n geskape wese was nie of ooit is nie. Inteendeel Jesus sê self: “Ek en die Vader is één.” (Johannes 10:30), (NLV 2017) In die verse net hier na (vers 31 - 33) wou die Jode Hom stenig, omdat hulle geglo het dat Hy laster, maar Hy het nie, want Hy het dood eenvoudig net aan hulle die waarheid bekend gemaak oor wie Hy werklik is. Dis ook opvallend dat Johannes die dissipel self ‘n Jood was, en vir ‘n Jood om iets soos Jesus se Godelikheid net op te maak, is doodgewoon onmoonklik, Johannes het dus baie duidelik geglo dat Jesus God is. Paulus self het in Kolossense 1:15 – 20 die volgende merkwaardige woorde aangaande Jesus neergepen: Die Seun is die sigbare uitbeelding van die onsigbare God. Hy is die Eerste van die hele skepping, omdat God alles deur Hom geskep het. Ja, alles in die hemel en op die aarde – die dinge wat gesien kan word en die dinge wat nie gesien kan word nie, of dit nou konings of heersers, regeerders of magshebbers is – álle dinge is deur Hom en vir Hom geskep. Hý was daar vóór alles, en in Hom word alles saamgebind. Hý is die hoof van die kerk, sy liggaam. Die Seun is die begin. Hy is die Eerste wat uit die dood opgestaan het sodat Hy inderdaad eerste in alle dinge is. God het dit goedgedink om met sy volle Goddelikheid in die Seun te woon, en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy vrede gemaak. Ja, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.” (NLV 2017) Hier sê Paulus baie duidelik dat alles in hierdie lewe draai om Christus, en dat Hy reeds alles met Homself versoen het, wat beteken Hy heers oor alles en almal.

Dit is dus duidelik dat Jesus nie blood net ‘n geskape wese was nie, nee, Hy was en is die Skepper God wat vlees geword het en onder ons kom woon het. Hy is ook die enigste wese in die heelal wie in Sy menslikheid nooit gesondig het nie, en wie ook nie in sonde gebore was nie, omdat Hy nie ‘n aardse pa gehad het nie, het die sondige natuur van Adam nie oorgedra na Hom toe nie. Dit is nie omdat Maria sondeloos was nie, maar omdat die Heilige Gees Jesus binne haar verwek het, en sodoende dit verhoed het om te gebeur (Jesaja 53:9; Matteus 1:18 – 25; Lukas 1:26 – 56, 2:1 – 22; Johannes 8:29, 19:4 en 1 Johannes 3:5). Hy was ook die enigste een wat die versoekings waarvoor baie mense soms toegee voledig kon weertsaan, en daarom kan Hy ons ook help wanneer ons versoek word (Hebreërs 4:15). Dus het Hy homself vereenselwig met die mensdom, sodat Hy vir almal se sondes kon sterf, en na drie dae weer kon opstaan uit die dood sodat elkeen wat in Hom glo verlos kan word, en deur Hom word hulle geregtig verklaar en kan hulle dan deur Hom in 'n hegte, intieme verhouding met God leef tot eer en verheerliking van Sy naam (Johannes 14:6 – 10 en 2 Korintiërs 5:21).

 
 
 

Recent Posts

See All
Die Kosbaarheid van die Seun

Wie is Jesus en waarom is Hy so belangrik? Wel hierdie vraag is geweldig belangrik want dit bepaal ons hele lewe. Dit bepaal wat ons dink...

 
 
 
Geroep om soos Jesus te word

Wat dink jy iemand is wat geroep is om ‘n verskil te maak in hierdie wêreld? Baie mense het in die verlede en selfs vandag gedink dat...

 
 
 

Comments


© 2023 by Marketing Inc. Proudly created with Wix.com

bottom of page