Ek Leef nie Meer nie…
- The Shepherd's Way Ministries
- Apr 17, 2023
- 2 min read
Paasfees is nou verby vir meeste mense, maar vir ons as gelowiges is dit nie verby nie. Inteendeel dit definieer wie ons is en hoe ons leef. Paulus self het dit baie goed verstaan toe hy in Galasiërs 2:20 gesê het: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” (1953 vertaling) Dis duidelik dat Paulus geweet het wat dit beteken om ‘n dissipel te wees, want net soos Jesus Sy lewe vir ons gegee het uit liefde, net so moet ons dieselfde doen.
Jesus self het gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” (Matteus 16:24), (1953 vertaling) Hierdie woorde het Jesus aan die dissipels gerig net nadat Hy vir hulle gesê het dat Hy gaan sterf. Dis geweldig want dit sê vir ons dat die woorde vir hulle waglik sou gewees het, want net midadigers het kruise gedra. Maar wat sê dit vir ons vandag? Wel die oomblik wat jy kies om ‘n volgeling van Jesus te wees word Sy lewe joune, Sy leiding jou, Sy dood jou en Sy opstanding joune. Met ander woorde jou hele lewe word nou ‘n Christus – gerigte lewe waar jy strewe om meer en meer soos Hy te word want dit is waartoe ons geroep is (Romeine 8:29 – 30).
Dit sê ook vir ons dat ons nie meer langer vir onself leef nie, maar dat ons nou leer om met Jesus se styl te leef. Ons lewens lyk met ander woorde anders. Maar wat beteken anders? Dit beteken dat net soos Jesus gekom het om mense te dien neem jy ook nou die rol van ‘n dienskneg aan (Matteus 20:25 – 28). ‘n Dienskneg wie se waarde nie in die roem of eer van hierdie wêreld is nie, maar een wie se waarde in Jesus self lê en om te doen wat Hy sê. Stephan Joubert stel dit soo mooi in sy boek Kry Styl, Jesus s’n:
"Om Jesus se nuwe rolle te bemeester, gaan nie maak dat mense oral oor jou begin praat nie. Of dat hulle selfs mooi van jou gaan praat nie. Jy gaan beslis nie elke week in die hoofnuus wees nie. Of ’n trend op Twitter begin nie. Of almal se # word nie. Maar weet een ding, die hemel gaan van jou kennis neem. God se skares gaan weet van jou. Want Jesus gaan baie praat oor jou daar waar dit vir altyd saak maak." (Joubert 2020)
Dus leef ek en jy nie meer nie, maar Jesus leef nou in ons, deur ons en saam met ons en soos wat ons, ons lewens daagliks neerlê vir Hom beleef ons God se vreugde, verde en heerlikheid. Leef en wees radikaal anders en leef met Jesus se styl.
Werke Aangehaal
Joubert S 2020: Kry Styl, Jesus s’n, Lux Verbi, NB Uitgewers, Media24 Boeke, Heerengracht 40, Kaapstad
Comments