top of page
Search

Die Belanrikste Geboorte in die Geskiedenis

Dit was so pas Kersfees gewees die dag wat ons Jesus se aankoms in hierdie wêreld gevier het. Natuurlik vir ons as gelowiges was Jesus se geboorte die belanrikste gewees in die geskiedenis, so belanrik dat dit die geskiedenis verewig verander het. Maar hoekom was Jesus se geboorte so belanrik en wat maak dit uniek? Wel kom ons begin by die evangelie van Matteus en rys saam deur die verhaal aangaande Jesus se geboorte.

In die eerste hoofstuk sien ons dat Matteus met Jesus se lewe begin deur middel van ‘n geslagsregister of ‘n stamboom. Nou geslagsregisters is nou nie juis belangrik vir ons as Westerlinge nie, inteendeel dis vir ons nogal vreemd en tot ‘n mate verveelig, maar vir die Jode 2000 jaar terug was dit geweldig belangrik gewees. Want dit het gewys waar jy vaandaan kom, wat jou grondregte is as famielie sou wees, jou geslags register het selfs bepaal watter ampte aan jou famielie toegeken sou word (van Zyl 2019:1595). Dus het geslagsregister ‘n bepaalende rol gespeel binne die wêreld waar Jesus in geleef het.

Die geslagsregister van Jesus onder andere begin by die feit dat Jesus die Seun van Dawid en die Seun van Abraham is (Matteus 1:1). Altwee die figure was van groot belang vir die Jode gewees, en deur Jesus se geslagsregister terug te trek na hulle toe wys Matteus vir sy lesers dat Jesus inderdaad die Joodse Messias is (Du Plessis 2007:1370). Die rede hoekom die twee figure so belanrik was is omdat eerstens daar aan Abraham ‘n belofte gemaak is in Genesis 22:18 wat sê: “En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.” (1953 vertaling)

Dieselfde belofte word natuurlik herhaal aan Dawid, maar met meer duidelikheid oor hoe die belofte in verfulling sou gaan. God sê vir Dawid in 2 Sameul 7:16 onder andere – “En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.” (1953 vertaling) In Dawid se tyd het die belofte natuurlik gedeeltelik in vervulling gegaan, want God was geduldig met die konings van Juda ten spyte van die feit dat hulle ongehoorsaam aan Hom was, en die rede hoekom Hy so geduldig was, is omdat die verbond wat Hy met Dawid gesluit het onvoorwaardelik was. Al die konings was dus maar net ‘n skadubeeld gewees van die Een wat sou kom en ons lees natuurlik in Jeremia 31:31 – 34 van die nuwe verbond wat God met Israel gaan sluit waarvan Jesus die verfulling is (Botha 2019:548). Jesus is met ander woorde die nakomeling van Dawid wie ook self die Goeie Nuus van God self is. Wat beteken dat al God se beloftes aan Israel in Hom verful word.

Dus is byde Abraham en Dawid se verbond nie hulle verbond nie, maar God sin wat heen wys na die Een wat sou kom. ‘n Mens sien dit ook in die verbonde wat God met Noag, Israel en Pinehas die priester gesluit het (Genesis 6:18, 9:1 – 17; Eksodus 19 – 23 en Numeri 25:10 – 13), (Botha 2019:548). Al die verbonde kan ‘n mens ook terug trek na Genesis 3:15 waar God aan die slang gesê het: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.” (1953 vertaling) Hierdie gedeelte ken baie mense as die Moederbelofte of die Protoevangelium (die evangelie in skadubeeld), wat heen wys na Christus wat die Bose deur Sy dood en opstanding gaan oorwin (Hebreërs 2:14; 1 Johannes 3:8; Openbaring 12:9 en 20:2), (Alexander 2011:58). Matteus wil dus vir sy lesers dit duidelik maak dat Jesus deur Dawid die lang verwagte Messias is, en dat Hy ook die Messias van die nasies is soos wat God aan Abraham belowe het. Hy bring ook dus die geskiedenis van die Ou en die Nuwe Testament bymekaar om te wys dat God getrou gebly het en dat Hy nie sy volk vergeet het nie (Botha 2019:548), (van Zyl 2019:1594).

Daar is ook nog merkwaardige skatte in die geslagsregister wat Matteus uitlig waarvan ons moet kennis neem, en dit is dat die gelagsregister van Jesus vroue ingesluit het wie byde Joods en heidense afkoms gehad het, hulle het ook nie goeie reputasies gehad nie. Hierdeur toon Matteus aan ons dat God se reddingsplan nie geskend kon word weens die mens se sonde nie, en dat Sy redding vir alle mense besikbaar is. Dis asof hy wil sê dat Jesus se DNS wys dat Hy vir alle soorte mense gekom het (van Zyl 2019:1595). Die vroue waarvan gepraat word, sluit in Tamar wat haar self as ‘n prostituut aan haar skoonpa Juda voorgedoen het, nadat hy versuim het om sy jongste seun vir haar as losser te gegee het (Genesis 38:11 – 30), tweedens Ragab die prostituut wie die spioene gehelp het in Jerigo, in die tyd van Josua (Josua 6:25), derdens Rut die Moabiet wie later met Boaz getrou het uit wie Dawid gebore was (Rut 1:4 en 4:18 - 22) en dan laastens Batseba met wie Dawid egbreuk gepleeg het deur wie Salomo gebore was (2 Samuel 11 en 12), (Matteus 1:3 – 6). Dit is einklik merkwaardig dat Matteus vroue ingesluit het in sy geslagsregister, want in die tyd was vroue as onwaardig beskou, en deur dit te doen beklemtoon hy net weereens dat die Messias vir alle soorte mense is.

Dit was egter nie net die vroue wat slegte reputasies gehad het nie, want die mansfigure het ook maar net so ‘n slegte reputasie gehad, veral as ‘n mens kyk na die konings wat Matteus genoem het (Matteus 1:7 – 16). Deur dit te doen sê Matteus saam met Paulus: “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.” (Romeine 3:23 – 24), (1953 vertaling), (Wilkins 2011:1959) Hierdie sou natuurlik Matteus se lesers geweldig vertroos het en bemoedig het, want nie net het hulle teenstanders Jesus nodig gehad nie, maar hulleself en daarom moes hulle te midde van die vervolging nog steeds vir hulle vyande liefgewees het en hulle bedien het met dieselfde liefde waarmee Jesus hulle bedien het.

Ons moet ook verneem dat die geslagregister die van Josef is, maar Matteus is baie duidelik bewus daarvan dat hy nie Jesus se biologiese pa was nie want in Matteus 1:16 sê hy die volgende “en Jakob die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.” (1953 vertaling) Wat duidelik is uit die vers is dat Josef wel Maria se man is, maar nerens lees ons dat hy die vader van Jesus is nie. Matteus doen dus baie moeite om vir ons aan te toon dat Jesus wel wettiglik uit die stam van Dawid gebore was, maar dat Sy oorsprong godelik van aard was (Du Plessis 2007:1370), (van Zyl 2019:1734).

Laastens moet ons ook verneem dat Matteus die geskiedenis van Israel verdeel het in drie dele van 14 geslagte. Daar was natuurlik baie meer geslagte tussen in gewees, maar die rede hoekom Matteus die geslagte so ingedeel het is om aan te toon dat die Drie – Enige God Sy geliefde Seun op die gepaste tyd nou na die wêreld toe gestuur het. Dit is ook duidelik as ‘n mens in ag neem dat die eertse lyn van Abraham tot by Dawid loop, die tweede lyn loop tot by die Babiloniese ballingskap wat ‘n laagte punt was vir Isreal, en dan loop die laaste lyn op tot by Jesus wat die hoogste punt is van die mensdom se geskiedenis (Du plessis 2007:1370), (van Zyl 2019:1594), (Matteus 1:17).

Die geboorte van Jesus was en bly steeds uniek in die sin dat dit ‘n bonatuurlike gebeurtenis was. Daar is natuurlik vandag geleerdes wat die gebeurtenis bevraagteken, maar dis omdat hulle grootliks die bonatuurlike aard van die Bybel ontken. Vir ons wat die Bybel lees op die Bybel se terme is die maagtelike geboorte nie ‘n probleem nie, inteendeel dis een van die belanrikste gebeure wat in die geskiedenis kon gebeur het. Matteus begin met die gebeurtenis soos volg: “DIE geboorte van Jesus Christus was dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees.” (Matteus 1:18), (1953 vertaling) Ons moet eerstens opmerk in die gedeelte dat Matteus nie vir ons vertel waar Jesus vandaan kom nie, hy sê ook nie vir ons hoe Jesus gebore word nie, dis die Lukas evangelie wat dit doen. Wat wel duidelik is, is dat Matteus die gebeurtenis deur die oë van Josef vertel, waar Lukas vertel dit nou weer deur die oë van Maria (Guzik 2017).

Ons lees ook uit die gedeelte dat Maria en Josef verloof was, wat in die tyd gelykstaande was aan ‘n huwelikskontrak. Dus kon die verlowing slegs deur middel van wetige dokumentasie verbreek word (van Zyl 2019:1595 – 1596). Hulle het dus in hulle dag in ‘n gevaarlike posissie gestaan omdat Maria swanger was nog voordat hulle intiem verkeer het. Die moonklikheid dat mense oor hulle geskinder het was ook baie groot wees, maar daar was iets anders aan Maria se swangerskap. Want byde die evangelie van Matteus en Lukas maak dit aan ons duidelik dat die verwekking van Jesus ‘n magsdaad van God was (Lukas 1:35 – 37 en 39 – 45), (van Zyl 2019:1734), (Matteus 1:18 – 25 en Lukas 1:34 – 35). Dus was Jesus se verwekking bonatuurlik van aard gewees.

Natuurlik het Josef getwyfel oor die swangerskap omdat dit in sy dag as ‘n skande beskou was om te trou met ‘n vrou wie dalk moonklik haar maagdelikheid prysgegee het. Joserf was ook ‘n wetsgetroue man gewees in die sin dat hy ‘n man met integriteit was (Matteus 1:19). ‘n Mens sien dit baie duidelik raak omdat hy nie die verlowing openlik wou verbreek nie, want hy geweet dat as hy dit sou doen sou hulle Maria met klippe doodgegooi het. Dit is ook natuurlik nie te vergesog om te sê dat God reeds in Josef se hart aan die werk was, en dat dit die rede is hoekom hy nie die verlowing openlik verbreek het nie.Met al die gebeure stuur God toe ‘n engel om dit aan Josef bekend te maak dat Maria se swangerskap van die Heilige Gees af is en dat hy haar as vrou moet neem, en wanneer die seuntjie in haar gebore word dan moet hy Hom Jesus noem (Matteus 1:20 – 21). Die naam Jesus kom natuurlik van die Hebreeuse naam Yeshua wat beteken die Here red, of die redding van die Here. Wat ook duidelik uit die gedeelte is, is dat Jesus Sy volk gaan red van hulle sondes, in die konteks was dit die Jode maar soos wat ons ook aangaande die evangelie gaan ontdek sluit dit die nie – Jode ook in. Want die nuwe Israel van God betsaan uit byde Jode sowel as nie - Jode (Romeine 1:16, 2:28 – 29; Galasiërs 3:28 en Efesiërs 5:25 - 26), (van Zyl 2019:1596).

Dus is die geboorte van Jesus ‘n magtige ingryping in die geskiedenis wat plaasgevind het, omdat dit deur die krag van die Heilige Gees bewerkstellig is en nie deur ‘n mens nie, en as ‘n mens die wonderwerke van Jesus kan aanvaar dan behoort ‘n mens geen probleem te hê om die maagdelike geboorte te aanvaar nie (Du Plessis 2007:1372). Dit is ook natuurlik op die stadium waar Jesus ‘n menslike natuur by sy godelikheid aanneem, of soos Johannes 1:14 dit stel God het vlees geword en het onder ons kom woon (Thoennes 2011:2763). Dus het Jesus twee nature, en daarom bely ons dat Hy voledig God, en voledig mens is.

Hierdie is ook hoek die maagdelike geboorte deel is van die Apostoliese Geloofsbeleidenis. Baie mense vandag ken nie noodwendig meer die beleidenis nie, en dis hartseer want dit was een van die vroegste krete in die vroeë kerk gewees. Die Geloofsbelydenis van Nicea bely die natuurlik presies die selfde. Hierdie wys vir ons een ding, en dit is vir die Apostles en die kerkvaders was die maagdelike geboorte van kritieke belang gewees, en as ‘n mens kyk na hoe Matteus en Lukas oor dit geskryf het was dit ook nie net sommer iets wat hulle in die verbygaan genoem het nie, want dit het geweldige betekenis, veral as dit kom by wie Jesus is (van Zyl 2019:1734). Dus as jy die maagdelike geboorte ontken, dan ontken jy Jesus elf, en is jy geloof nie geanker in die waarheid nie.

Nog ‘n ding wat Matteus uitlig deur die maagdelike geboorte is dat verlossing slegs van die Here af kan kom. Dit kan dus nie kom uit die mens se eie poging nie, want dis net Hy wat werklik volkome kan red, Paulus self maak dit ook baie duidelik in Galasiërs 4:4 – 5. Die geboorte wys ook vir ons dat Jesus se menslike natuur uniek is, want sonde volgens die Bybel was oorgedra deur die eerste vader, naamlik Adam. Dus omdat Jesus nie ‘n aardse pa gehad het nie het die Heilige Gees gekeer dat die sonde oorgedra kon word. Jesus is dus direk van God gebore en daarom kon selfs Maria se sondige natuur nie oorgedra word na Hom toe nie (Lukas 1:35), (Grudem 2000). Hy ook natuurlik al die swakhede gehad wat ‘n normale mens sou hê, want Hy het ook honger, dors, moeg en selfs seer gekry terwyl Hy hier op aarde was, maar met een verskil Hy het nie gesondig nie (Hebreërs 4:15 – 16).

Matteus noem dan ook natuurlik die unieke profesie wat tot verfulling gekom het in Jesus Christus (Matteus 1:22 – 23). En die profesie wat Matteus hier aanhaal kom uit Jesaja 7:14 waar hy sê: “Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem.” (1953 vertaling)

Dis duidelik dat die vertaling praat van ‘n maagd, maar in die vertaling en in die 1983 vertaling word daar gepraat van die jong vrou. Die rede vir die twee vertalings is omdat die Hebreeuse woord wat gebruik word almah is wat as dit letterlik vertaal word dan is dit einklik ‘n jong meisie, en wanneer ‘n mens die woord in konteks lees met die res van die Bybel verwys dit altyd na ‘n ongetroude meisie wat nog nooit intiem met ‘n man verkeer het nie. Ander wat dit vir ons duidelik maak sluit in Genesis 24:16, 43 en Eksodus 2:8. Die vertalers wat 200 v.C. die Hebreeuse Ou Testament oorvertaal het na Grieks (wat bekend staan as die Septuagint) het ook so verstaan dat die woord almah na ‘n maagd verwys. ‘n Mens sien dit ook duidelik in die manier wat hulle die spesifieke teks vertaal het want hulle gebruik die woord parthenos, wat dieselde betekenis het as die van die Hebreeus. Dis ook hoekom Matteus praat van ‘n maagd, en nie net van ‘n jong vrou nie (Ortlund jr. 2011:1372).

Ons moet ook net verneem dat die verfulling van die profesie nie net van toepassing was op Jesus se geboorte nie, maar het ook ‘n betekenis gehad vir die mense van Jesaja se dag. Baie mense mis dit omdat hulle ‘n wanpersepsie het oor wat profesie werklik is, want vir meeste mense vandag is profete mense wat toekomsvoorspelling doen, maar ons moet verstaan dat Jesaja geskryf was aan ‘n spesifieke groep mense. In die tyd het aan die Judeërs geskryf om hulle te waarsku dat hulle ongehoorsaamheid hulle ondergang sou beteken, en dit het, want hulle is in die jaar 586 v.C. wegevoer na Babel toe. Hy het uiteraard nie net geskryf om hulle sondes bloot lê nie maar het ook aan hulle geskryf om hulle in hulle omstandighede te bemoedig en te vesterk het dat God hou by Sy beloftes, en dat Hy graag sy volk in ere wou herstel, en dat Hy eendag ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gaan skep (Prinsloo 2019:1113),(Prinsloo 2007:964), (Ortlund jr. 2011:1353).

Dus is profete nie net blote toekomsvoorspellers nie, ja dis waar dat hulle wel in die toekoms kon insien, maar ‘n mens moet rekenskap hou dat die boodskap wat God wou oodra betekenis gehad in die verlede, die hede en die toekoms. Wat beteken dat die boodskap wat God vir Jesaja gegee het tydlose beginsels het wat elke geslag ter harte kan neem, en op ag moet slaan. Hierdie wys ook vir ons dat die Bybel altyd relevant bly en dat dit ter alle tye die Woord van God bly, en dat ons dus dit baie versigtig en verantwoordelik moet hanteer.

Dit bring ons dan by die onmidelike konteks van die profesie. Die profesie onder andere was gerig na Koning Agas en sy huishouding. Die boodskap wat Jesaja aan hom gebring het was een van oordeel omdat die koning en sy famiielie ongehoorsaam was aan die Here, en die maagd waarvan gepraat word in hoofstuk 7, was heel moonklik deel van Agas se hofhouding gewees, en sou dus die uitspraak van Jesaja gehoor het (Ortlund jr. 2011:1372). Die geboorte van die seun in die tyd het gebeur na die bedryging van Resin (koning van Aram) en Peka (seun van Remalja die koning van Israel). Die seun wat gebore was se naam was Immanuel gewees (God is met ons) en verwys daarna dat God getrou bly, en dus is die boodskap een van oordeel, maar ook vertroosting vir die volk van Israel dat God hulle eendag gaan verlos (Prinsloo 2019:1130).

Die naam Immanuel het ook natuurlik betrekking gehad op die koningshuis van Dawid, maar in hierdie konteks gebruik Jesaja dit op ‘n ironiese manier, want die naam en die geboorte van die seun dui einklik op Agas se ontrouheid teenoor die Here, en daarom sou byde hy en sy famielie verantwoordelikheid moes neem vir hulle ongehoorsaamheid (Jesaja 7:15 – 17). Hierdie seun wies se naam Emmanuel was, eas ook natuurlik ‘n skadubeeld gewees van die ware Immanuel, Jesus Christus self (Prinsloo 2019:1130). Jesaja het ook duidelikheid gegee aangaande die gedeelte van die profesie war nog in verfulling moet gaan want in hoofstuk 9:5 - 6 sê hy: “Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors — tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen.” (1953 vertaling) Die titels wat aan die kind gegee word is baie duidelik Godelike van aard, en dus is Jesus die volle verfulling van die profesie wat Jesaja eers aan Koning Agas gegee het, en het die verlossing nie net vir die Jode gekom nie, maar ook die nie - Jode (Ortlund jr. 2011:1372).

Jesus is inderdaad God met ons deur die Heilige Gees, en dis duidelik dat God nie Sy volk in die steek gelaat het nie, maar dat al Sy beloftes nou in verfulling gaan in en deur Sy unieke Seun (Matteus 1:23; Johannes 14:16 - 17, 26 en Romeine 8:9), (Prinsloo 2019:1131).

Matteus begin in hoosftuk 2 op ‘n indrukwekkende manier, want hy sê dat jesus gebore is in Betlehem in die tyd toe Herodus die Grote geheers het (Matteus 2:1). Hierdie gee natuurlik vir ons verwysingspunt van wanneer Jesus dalk gebore was. Die rede hoekom Matteus die tyd van Jesus so aankondig is omdat mense nie tyd gemeet het soos ons dit vandag meet nie, hulle het gewoonlik gewerk met plekke, mense en gebeure. Dus as ons kyk na Herodus die Groote, het hy geheers van 37 – 4 v.C. En dus plaas dit Jesus geboorte tussen 7 – 5 v.C. (van Zyl 2019:1598).

So wie was Herodus die Grote wat ons hier in die teks aantref? Wel hy was in die tyd die heesende koning gewees, en het sy titel verkry omdat hy ‘n indrukwekkend argitek en bouer was. Een van die geboue wat hy herbou en opgeknap het was die tempel in Jerusalem wat as een van die wonders van die antieke wêreld beskou was (van Zyl 2019:1598). Hy het ook ander strukture gebou wat insluit, Herodium, Machaerus, Sebaste, Masade en die hawe wat hy gebou het by Ceasarea Maritima. Hy het ook natuurlik ‘n hele klomp heidense strukture gefinansier binne die Romeinse Ryk, voorbeelde van dit kan gevind word in Antiogië (Handelinge 11:19), Nikopolis (Titus 3:12) en Atene (Handelinge 17:16), (Wilkins 2011:1961). Alhoewel Herodus ‘n begaafde bouer was, was die Jode nie baie lief vir hom gewees nie, want sy koningskap het van die Romeine afgekom, bonop was hy ‘n Edomiet gewees, en was hy ‘n genadelose tieraan gewees. Die Jode het dit ook glad nie aardeer dat hy heidense afgods tempels gefinansier het nie, en dat sy famielie baie noue bande met die Romynse ryk gesnoer het (Du Plessis 2007:1373), (van Zyl 2019:1598).

Dan praat Matteus ook daarvan dat Jesus in Betlehem gebore was, wat belangrik sou gewees het omdat dit die stad was waar Koning Dawid vandaan gekom het. Baie Jode in die tyf het dus ook verwag dat die Messias van die stad afkomstig sou wees, wat natuurlik Miga 5:1 in vervulling gebring het (Du Plessis 2007:1373). Die teks sê onder andere die volgende: “EN jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat 'n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.” (1953 veratling)

Die teks sê baie duidelik dat Betlehem klein was en dit was inderdaad so in vergelyking met die ander streke van Israel. Dus het niemand verwag dat daar ‘n koning uit die klein dorpie sou voortkom nie, en tog is dit juis die plek waar Koning Dawid gebore was. Dawid was maar net die skadubeeld gewees, want Miga praat baie duidelik van ‘n koning wat groter as Dawid sou wees. Ons moet net verneem dat Matteus gebruik maak van die teks in kombinasie met Miga 5:4 wat vir ons ‘n duidelike aanduiding gee dat byde Matteus en die skrif geleerdes geweet het waar die Messias gebore sou word. Lukas self sê ook dat Jesus in Betlehem gebore sou word, en as historikus sou hy nie dit ligtelik genoem het nie, en dus wys dit vir ons dat Jesus die lang verwagte Mesias is wie se herkoms van ewigheid af is (Aucker and Magary 2011:1830). Dit herinner natuurlik baie sterk aan Johannes 1:1 – 3.

Ons lees ook in die teks van sterrekykers wat Jesus kom besoek het, maar hulle het heel wat later as die herders Jesus besoek. Die teks gee ook vir ons luidraade van wanneer die sterrekykers Jesus kom besoek het veral as mens Matteus 2:16 lees waar Herodus die bevel gegee het dat elke seuntjie wat twee jaar en jonger was dood gemaak moes word, en dus plaas dit die sterrekykers se besoek tussen 5 – 4 v.C. Wat beteken dat toe hulle Jesus besoek het, was Hy al ‘n jaar of twee oud gewees (Grudem and others 2011:1929), (Matteus 2:2).

Dit brings ons dan nou by ‘n belanrike vraag, en dit is. Wie was die sterrekykers gewees? Wel hulle was heelwaarskeinlik afkomstig gewees van Babilon of Persië, en hulle herkoms kan teruggevat word tot so ver soos Daniël en wat onder andere in astrologie, droom - interpretasies, die studie van heilige geskrifte, die najaag van wyshede en selfs towery gespesialiseer het. In Daniël se tyd onder andere het die wyse manne of sterrekykers as raadgewers gedien vir die koning en van al die raadgewers was Daniël die een wat die beste raad gegee het, omdat hy sy raad van God self ontvang het (Daniël 1:20), (Du Plessis 2007:1373), (Wilkins 2011:1961).

Die sterrekykers was ook heelwaarskynlik bekend gewees met die Massianse profesie van Numeri 24:17. Hoe hulle die geskrif aan die hande gekry het was heelwaarskynlik omdat daar ‘n redelike groot Joodse gemeenskap in Babelonië aanweesig was en dus kon hulle maklik toegang verkry het tot die geskrifte (van Zyl 2019:1597). Hulle kennis van die Hebreeuse geskrifte kan ook heel moonklik so ver terug gaan na die tyd van Daniël toe, soos wat gesein kan word Daniël 5:11 (MacArthur 2010:1361). Daniël self was ook natuurlik hoof van die waarsêerpriesters, towenaars, Galdeërs en voorspellers gewees, en dus kon hulle heel moonklik tot geloof gekom het onder sy leierskap. Dit sê vir ons dat die sterrekykers baie moonklik die nasaate was van die wysemanne, en het heel moonklik die God van Israel gedien, en dit kan ook verduidelik hoekom hulle moonklik na die teken van die lang verwagte Messias gesoek het.

Ons moet ook net verneem dat daar nie drie wysemanne was of drie konings nie, want die teks self sê dit nie, hulle was veel eerder ‘n groot menigte gewees wat drie geskenke gebring het aan die lang verwagte Messias. Die menigde het natuurlik lyfwagte ingesluit (Guzik 2017), (MacArthur 2010:1361), (Wilkins 2011:1961). Maar wat maak die sterrekykers se besoek so belangrik? Wel Matteus wil weereens sy lesers daarvan bewus maak Jesus nie net die Koning van die Jode is nie, maar dat Hy Koning van die hele wêreld is, en dat Sy redding nou beskikbaar is vir alle nasies (Du Plessis 2007:1373).

Die ster wat hulle gevolg het bekend gestaan as die teken van die Messias wat gebore sou word, volgens Numeri 24:1 (Matteus 2:2). Maar waar kom die ster vandaan? Wel die verskynsel kon die oorsaak gewees van ‘n bonatuurlik verskynseld wat veroorsaak was in die hemelruim. Die rede hoekom die nie net as ‘n blote natuurverskynsel gesien kan word nie, is omdat die ster beweeg het. Matteus self het geweet dat dit wat in hierdie tyd gebeur het iest besonders was, want God wys bou op ‘n dramatiese manier hoe Hy ingryp in die geskiedenis sodat die mens deur Sy Seun verlos kan word (Matteus 2:11), (Wilkins 2011:1961).

Die sterrekykers het die ster natuurlik gevolg, en het toe besluit om navraag te doen by die berigte Koning Herodus die Groote, wat natuurlik ‘n baie brawe en gevaarlike ding was vir hulle om te doen. Die rede hiervoor is soos reeds vermeld was Herodus bekend gewees vir sy wreedheid, want as enige iemand in sy oë sy koningskap bedryg het, het hy hulle sumier teregestel. Hy het onder andere twee van sy vroue en drie van sy seuns laat doodmaak omdat hy geglo het dat hulle teen hom saamgesweer het. Sy wreedheid was so erg gewees dat Keiser Augustus gesê het dat hy eerder Herodus se vark sou wou gewees het as wat hy sy seun sou gewees het (van Zyl 2019:1598). Hy was dus ‘n erg paranoise mens gewees en dus moes mense met baie versigting hom besoek het.

Hoe die sterrekykers praat oor die Messias, sê baie duidelik vir ons dat hulle oortuig daarvan was dat Hy nie ‘n normal aardse koning was nie want in Matteus 2:2 sê hulle: “en gekom om Hom hulde te bewys.” (1953 veratling) Die Griekse woord wat hier gebruik word om hulde te bewys is die woord proskuneó. Hierdie woord kan ook vertaal word om te aanbid en as ‘n mens die woord letterlik sou vertaal beteken dit om op jou knee af te gaan. Dus is dit nie gewone eer wat die sterrkykers wou bewys nie, maar Godelike eer (NASB LXX). Matteus het ook baie duidelik verstaan en geglo dat Jesus God is, want reg deur die evangelie beskryf gebruik Matteus die woord proskuneó wanneer mense of Jesus vereer of aanbid (Matteus 2:8,11; 8:2; 9:18; 14:33; 15:25; 20:20; 28:9, 17), (van Zyl 2019:1597). Met die woorde van die sterrekykers was Herodus glad nie ingenome gewees nie, inteendeel hy en die hele Jerusalem was onsteld gewees (Matteus 2:3). Herodus het bedryg gevoel omdat hy geweet het dat hy nie die wettige opvolger van die kroon van Koning Dawid was nie, bonop het die godsdientige leierskap ook bedryg gevoel, en dus was dit ‘n plofbare situasie gewees vir byde die sterrkykers, en die gemeenskap (Wilkins 2011:1961).

Daarom het Herodus dringend al die skrifgeleerdes bymekaar geroep en hulle gevra om te kyk waar die nuwe koning gebore sou word (Matteus 5:4). Die skrifgeleerdes wat hy geroep het, het onder die gesag van die hoof priesters gestaan, en skrif geleerdes in die tyd was gesien as die ligetieme leiers wat die skrif geinterpriteer het. Hulle was onder andere bekend as die Fariseërs gewees, hierdie was mense gewees vir wie die Jode geweldige respek gehad het. Ons moet ook in ag neem dat die term “Koning van die Jode” ‘n baie duidelik titel vir die Messias was, en dat Jode dit onmiddelik sou erken het (van Zyl 2019:1597), (Wilkins 2011:1961).

Die skrifgeleerdes het toe nadat hulle die skrifte ondersoek het, het hulle dit aan Herodus duidelik gemaak dat die nuwe Koning in Betlehem gebore sou word, wat soos ons reeds waargeneem het die plek was waar baie Jode verwag het die lang verwagte Messias sou kom (van Zyl 2019:1597). Dus is Miga 5:1 verful. Die gedeelte verwys ook terug na 2 Samuel 5:2 wat praat van God wat aan Dawid die belofte gemaak het dat hy herder van sy volk sou wees, hierdie was egter net ‘n gedeeltelike verfulling gewees, want in Jesus Christus is altwee die beloftes voledig verful, want Hy is die Herder Koning van byde die Jood en die nie – Jood wat gekom het om te sterf vir hulle sondes sodat hulle deur geloof in Hom verlos kan word (Matteus 2:5 – 6), (Du Plessis 2007:1373).

Herodus het toe dringende die sterrekykers in die geheim weggestuur na Betlehem toe om vas te stel of die profesie wel verful is en of die kindjie wel daar is soos wat die sterrekykers geglo het. Weereens as ‘n mens in ag neem wie Herodus was, dan kom ‘n mens agter dat hy einklik baie slinks gewerk het. Want die kind sou dalk volgens hom, die einde van sy koningskap beteken het en dus wou hy Hom uit die weg geruim het (Du Plessis 2007:1374), (McArthur 2010:1362), (Matteus 2:7). ‘n Mens tel dit ook op in dit wat hy vir die sterrekyker gesê het: “en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys.” (Matteus 2:8), (1953 veratling)

Die sterrekykers het toe vertrek en het die ster gevolg tot dat dit stil gaan staan het op die plek waar Jesus gebore was (Matteus 5:9). In vers 10 lees ons iets merkwaardigs en dit is dat toe hulle die ster sien het hulle ‘n onbeskryflike groot vreugde ervaar het, opdat God hulle gely net na die Messias, die Een wie God self is wat vlees geword het. Hulle het toe die huis binne gegaan, hierdie wys natuurlik vir ons dat Jesus reeds gebore was, want Josef en Maria was nie meer in die stal gewees soos wat ‘n mens dit aantref in die Lukas evangelie nie (Lukas 2:7), (McArthur 2010:1362). Binne die huis het hulle natuurlik neergekniel om eer te bewys aan Jesus en in die Grieks het hulle einklik letterlik neergeval wat aandui dat hulle einklik Jesus aanbid het, want die term proskuneó word weereens hier gebruik, en word altyd soos ons reeds waargeneem het na Godelike eer (Matteus 2:11), (LXX NASB).

Die aanbidding wat die sterrekykers aan Jesus getoon het ook groot profetiese betekenis gehad, want God wou van die begin af byde Jood en nie – Jood deelgemaak het van Sy volk. Hierdie is baie duidelik as mens gaan kyk na spesifieke tekste soos byvoorbeeld: Jesaja 60:3 en 6 wat sê: “En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang. 'n Menigte kamele sal jou oordek, die jong kamele van Mídian en Efa; hulle sal almal uit Skeba kom; hulle bring goud en wierook en verkondig met blydskap die roemryke dade van die Here.” (1953 veratling)

Die sterrekykers het baie duidelik Godelike eer aan Jesus betoon, en ‘n mens kan dit ook sien aan die geskenke wat hulle vir Hom gebring het. Die geskenke het ook baie sterk simboliese en profetiese betekenis gehad en dit sluit in goud wat dui op Jesus se koningskap, tweedens het hulle vir Hom wierook gegee wat dui op Sy Godelikheid en laastens het hulle vir Hom mirre gegee wat spesifiek gebruik was in die antieke tyd om mense se liggame mee te balsem nadat hulle getserf het (Du Plessis 2007:1374).

Toe die tyd aanbreek dat die sterrekykers moes vertrek was hulle in ‘n droom deur God gewaarsku om nie terug te keer na Herodus toe nie (Matteus 2:12). Wat baie duidelik is, is dat hulle baie graag wou terugkeer, maar omdat God hulle gewaarsku het, het hulle van plan vernader en het uit gehoorsaamheid aan Hom dit nie gedoen nie. Net soos die sterrekykers moet ons ook wanneer ons op ‘n kruispad kom altyd heel eerste vir God vra of dit in lyn is met Sy wil, want Hy weet wat werklik goed is vir ons en wat nie (Du Plessis 2007:1374).

Herodus was natuurlik glad nie ingenome daarmee gewees dat die sterrekykers nie terugekeer het na hom toe nie, inteendeel hy was woedend. Dus in ‘n poging om Jesus finaal uit die weg te probeer ruim het, het hy toe besluit om soldate na Betlehem toe te stuur om al die seuntjies wat ‘n jaar tot twee jaar oud is dood te maak (Matteus 2:16). Herodus was vas daarvan oortuig dat Jesus sy troon wou hê, wat einklik ironies is want Jesus het glad nie belang gestel in sy troon of kroon nie (Du Plessis 2007:1374). Die rede hiervoor is doodenvoudig, en dit is dat Jesus klaar ‘n koninkryk van Sy eie gehad het, en dat dit glad nie soos die wêreldse koninkryke nie dis hoekom Hy in Johannes 18:26 aan Pilatus gesê het: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” (1953 vertaling) Jesus se koninkryk is een van selfo – opofferende liefde wat nie mense vorseer om Hom te dien nie, nee Hy nooi mense om Hom te dien. Herodus aan die ander kant het dalk die titel koning gedra, maar was dit nie waardig gewees nie, en om te dink dat Jesus juis gekom het vir mense soos hy. Maar sy eie trots en waansin het hom blind gemaak, en omdat hy meer besorg was oor sy eie tydelike koninkrykjie het hy die tyding wat God beskik het heeltemal gemis.

Dis nou maklik om neer te sien op iemand soos Herodus, maar ons het ook maar op tye in ons lewe maar dieselfde gedoen. Stephan Joubert setl dit so mooi raak in sy boek, Kry Styl, Jesus s’n:

““Ja, Jesus staan beslis in die pad van al ons sondes, ongehoorsaamheid en droogmakery. Hy verlos ons van die knelgreep van die ewige dood. Maar Jesus red ons ook van onsself. Hierdie belangrike punt kyk te veel mense mis. Hulle wil eintlik net Jesus se ewige-lewe-pakket hê sodat hulle daarna ongestoord kan voortgaan om hulle eie koninkrykies hier op aarde te bou. Hulle kies vir die ewige lewe, maar terselfdertyd kies hulle vir hulle selfgemaakte krone, trone, suksesverhale, geld, mag, bekendheid, status …” (2020:55)

Jesus red ons dus van onself, ons eie poging om goed te vertoon voor ander en goed te lyk. ‘n Mens se eie poging kry jou gereeld in die moeilikheid ware jy die heeldtyd skuldig voel, en waar jy die heeltyd voel dat jy moet presteer, dis hoekom die Ou Testament onder andere so wreed was, en dis ook hoekom ons wêreld lyks soos wat dit lyk. God wil vir elkeen die lewe in oorvloed gee, en dit kan slegs verkry word in Sy Seun. Want dit is waar ware verlossing lê. Herodus het die pos dus heeltemal mis gesit. Nou daar is natuurlik geleerdes wat natuurlik geleerdes wat die kindermoord betwyfel, maar as ons in ag neem wie Herodus was dan kan ‘n mens die gebeurtenis nie betwyfel nie, want dis honder persent in pas met wie hy was (van Zyl 2019:1597).

Josef self was ook natuurlik in ‘n droom gewaarsku oor alles wat Herodus teen Jesus beplan het. Hierdie wys vir ons net hoe nederig Josef self was, want hy was sensitief en onvanklik vir die stem van God gewees, en het nie gehuiwer om Hom te gehoorsaam nie (Matteus 2:13 – 14), (Du Plessis 2007:1374). Die opdrag wat God natuurlik aan hom gegee het was om na Egipte toe te vlug. Egipte onder andere was ongeveer 146 km van Betlehem gewees en dus het God goed geweet waarheen om sy Seun te stuur want dit was ook buite die Herodus se jurisdiksie gewees (Wilkins 2011:1962).

Josef hulle het natuurlik in Egipte gebly todat Herodus gesterf het. Hierdie het ook natuurlik nog ‘n profesie in verfulling laat gaan wat ons van lees in Hosea 11:1 wat praat van Isreal wat uit Egipte geroep en gered word. Israel in die Ou Testament was natuurlik gesien as God se seun, maar die ware Seun die een wat sou kom om byde Jode en nie – Jode te verlos het nou gekom, en dis hoekom Matteus geskryf het aangaande Jesus: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” (1953 vertaling), (Matteus 2:15) Wat ook baie duidelik is, is dat God geweet het dat Egipte die gepaste plek was om vir Josef hulle na toe te stuur omdat daar al reeds ;n groot Joodse gemeenskap gewoon het (Du Plessis 2007:1374).

Net na Josef uit Betlehem is, het Herodus baie wreed tussen 20 – 30 kindertjies wreed vermoor, en dit net uit vrees vir ‘n Kind wat in elkgeval nie sy troon wou gehad het nie, maar wat juis gekom het om mense soos hy te verlos. Hierdie gebeurtenis het die woorde van Jeremia 31:15 in verfulling laat gaan wat sê: “'n Stem word gehoor in Rama, geklaag, bitter geween; Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie.” (1953 vertaling)

Hierdie teks gedeelte is ‘n moeilike een om vir ons as gelowiges om te slik, maar daar is twee maniere om hier na te kyk. Eerstens sien ons in die gedeelte hoe sleg sonde is en dat die mens geweldig wreed kan wees. Ons moet verstaan dat hierdie nie die toedoen van God self is nie, hierdie is die besluite van ‘n selfsugtige mens wat meer bekommerd was oor sy eie mag en belange, en as gevolg daarvan het hy ‘n klomp hartseer vir ‘n klomp mense veroorsaak. Nie net was hierdie mense se harte stukkend gewees nie, maar God se hart het ook gebreek vir hierdie mense.

Nie net het Sy hart gebreek vir hierdie mense nie, maar Hy het verseker dat geregtigheid sou geskied het vir hierdie mense. Want in die jaar 4 v.C. het Herodus op ‘n baie pynvolle manier gesterf van ‘n ongeneeslike siekte. Herodus het natuurlik op presies dieselfde manier gesterf as sy seun Herodus Agripa wie deur ‘n engel van die Here getref was en was toe deur wurms opgevreet gewees, en het toe eers gesterf het (Du Plessis 2007:1375, 1680) En dus het daar het vergelding gekom vir die moord wat hy op die kindertjies gepleeg het, want God is ‘n regverdig wanneer dit kom by reg en geregtigheid in hierdie lewe. Ja Herodus het die kans gehad om na God te draai, God het dit aan hom gegee, maar soos almal van ons het hy ‘n keuse gemaak, en dit was om homself boë God te kies. Die kindertjies self is nou veilig in die arms van Jesus, en dis die troos wat ons het in die lewe dat maak nie saak wat met ons gebeur nie niks kan ons skei van die liefde van God wat ons het in Jesus Christus nie (Romeine 8:35 – 39).

Jesus gee ons dus nie die antwoord op al die seer en geweld wat nog steeds in hierdie in die wêreld plaasvind nie, want Hy is die antwoord, en Hy is saam met ons in ons swaarkry, en sal met ons wees tot aan die einde van die geskiedenis van hierdie wêreld (Matteus 28:20), (Childers 2022).

Die tyd het toe aangebreek vir Josef hulle om terug te keer huis toe, en God het weereens deur middel van ‘n droom aan hom bekend gemaak dat Herodus gesterf het (Matteus 2:19). Josef was oppad na die streek van Judea toe, maar het toe van plan verander, omdat Argelaos in die plek van sy pa regeer het. Hy het onder andere van 4 n.C. – 6 n.C. regeer en was maar net soos sy pa ‘n wreedaard gewees, so wreed dat hy aan die begin van sy bewind 3000 invloedryke mense laat dood maak het. Wat ook duidelik is, is dat die Romeine nie die seuns van Herodus juis vertrou het nie, en daarom is die koninkryk in drie dele verdeel. Hulle het dus Herodus Antipas oor Gaglilea en Perea geplaas, Herodus Filipus II het oor Tragonitus regeer en Argelaos het in Judea, Samaria en Idumea regeer (Du Plessis 2007:1375). Dus was Josef wys gewees om eerder die streek te vermy, en ook weereens nederig omdat hy na God se stem geluister het, net soos wat hy die vorige keer gehoor gegee het aan Sy stem (Matteus 2:21 – 22).

Josef het dus homself in die streek van Galilea gaan gevestig in die dorpie van Nasaret, net soos wat die Here hom gelei het (Matteus 2:22 - 23). In vers 23 praat Matteus dan daar nog ‘n profesie verfulling gegaan, en dat Jesus ‘n Nasarener genoem sou word (iemand wat van Nasaret af kom). Baie mense verwar natuurlik die term met Nasireër, en verwys ook dan verkeerdelik na Rigters 13:5. Maar dis nie wat Matteus hier bedoel het nie, wat hy wel na verwys is die profesie in die breë wat praat van die feit dat die Messias as veragtelik beskou sou word omdat die plek waar Josef hulle na toe getrek het as veragtelik beskou was (Psalm 22:6; Jesaja 49:7 en 53:3). As mens tekste gaan lees soos Johannes 1:46 en 7:41, 52 is dit duidelik dat Galilea nie nou juis ‘n baie edele plek was nie omdat daar baie heidene woonagtig in die gebied was (Wilkins 2011:1963).

Nog ‘n teks wat heen was na Jesus toe en wat sinspeel op waar Sy tuisdorp sou wees is die van Jesaja 11:1 - 2 wat lui: “MAAR daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here.” (1953 vertaling) Die woord wat hier gebruik word vir takkie is die Hebreeuse woord netser wat natuurlik een van die titels van die Messias was. Matteus het heel moonklik gesinspeel op hierdie profesie om aan te toon dat Jesus werklik die Messias is (Du Plessis 2007:1375), (Prinsloo 2019:1137 – 1138). Dis ook baie interesant dat die term Nasarener ook as ‘n bynaam gebruik was vir Christine wat binne in Sirië gebly het. Hierdie sou dus gewelig baie vir Matteus se eerste lesers beteken het, want dit sou hulle verseker oortuig het aangaande wie Jesus is (van Zyl 2019:1598).

Die Christus – tyd het nou aangebreek, en niks kan dit nou keer nie. God het nou vlees geword en het reeds oor die bose getriomfeer. Dus as jy vir Jesus wil leef, doen dit vandag, want vandag is die dag van verlossing en Hy staan met uitgestrekte arms en wink vir jou om na Hom toe te kom.

1953 vertaling: Die 1953 vertaling van die Bybel, Die Bybelgenootskap van Suid Afrika

Botha P 2019: Jeremia, In van Rooy H en van Zyl H (Redakteurs), Tematiese Studybybel, Christenlike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging, 1930

Collins J C., Dennis, L T., Grudem W, Packer J. I., Shreiner T R. And Taylor J 2011: New Testament Timeline, In In LT Dennis, W Grudem and JI Packer (eds), The ESV Study Bible (Large Print), Wheaton, IL:Crossway Bibles 2011.

Guzik D 2017: Matthew, Online Study Guide, Accessed from: https://www.blueletterbible.org/commentaries/guzik_david/

Grudem W 2000: Systemantic Theology, An Introduction to Biblical Theology, Inter - Varsity Press, Zondervan Publishing House, Grand Rapids, Michigan, USA.

MacArthur 2010: Matthew, In The McArthur Study Bible, English Standard Version (2011 ed.), Crossway, Good News Publishers

Prinsloo 2007: Jesaja, In Vosloo W en Janse van Rensburg F (Redakteurs), Die Bybel in Praktyk, Christenlike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging, 1930

Prinsloo 2019: Jesaja, In van Rooy H en van Zyl H (Redakteurs), Tematiese Studybybel, Christenlike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging, 1930

Van Zyl H 2019: Lukas, In van Rooy H en van Zyl H (Redakteurs), Tematiese Studybybel, Christenlike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging, 1930

 
 
 

Recent Posts

See All
Die Kosbaarheid van die Seun

Wie is Jesus en waarom is Hy so belangrik? Wel hierdie vraag is geweldig belangrik want dit bepaal ons hele lewe. Dit bepaal wat ons dink...

 
 
 
Geroep om soos Jesus te word

Wat dink jy iemand is wat geroep is om ‘n verskil te maak in hierdie wêreld? Baie mense het in die verlede en selfs vandag gedink dat...

 
 
 

Comentarios


© 2023 by Marketing Inc. Proudly created with Wix.com

bottom of page